Tydens die hofsaak is bevind die dood van Jacqueline Fox van Alabama in Amerika hou verband met haar gebruik van die farmaseutiese reus se Baby Powder en Shower to Shower-deodorant, berig The Guardian.

Daar is berig sy het die produkte vir 35 jaar as ’n “badkamerstaatmaker” gebruik tot eierstokkanker drie jaar gelede by haar gediagnoseer is.

Sy is in Oktober 2015 op 62 jaar dood. “Dit het tweede natuur geword, soos jou tande borsel,” het Jacqueline se seun, Marvin Salter, gesê.

Lees ook: Moeders oor 40 ‘moontlik meer geneig om ’n hartaanval of beroerte te kry’

Ná ure lange beraadslaging het die jurie van Missouri bevind Johnson & Johnson is aanspreeklik vir bedrog, nalatigheid en sameswering, want hulle het nagelaat om hul klante te waarsku hul produkte met ’n talkbasis kan kanker veroorsaak.

Volgens Jere Beasley, ’n prokureur vir Jacqueline se familie, het Johnson & Johnson “reeds in die 1980’s van die risiko geweet”; tog het hulle “vir die publiek en reguleringsagentskappe gelieg”.

Oor die jare het gesondheidsgroepe die maatskappy aangevat oor die “twyfelagtige bestanddele” wat in hul produkte gebruik word.

Die verband tussen die produkte en kanker bly ’n onderwerp van bespreking.

Nietemin is hulle aangesê om R155 miljoen skadevergoeding en R964 miljoen bestraffende skadevergoeding aan Jacqueline se familie te betaal.

Die saak is net een van die 1 000 wat by die hof in Missouri aanhangig gemaak is.

Lees ook: Week oue baba oorleef op stortingsterrein

’n Woordvoerder vir Johnson & Johnson, Carol Goodrich, het gesê: “Ons het geen groter verantwoordelikheid as die gesondheid en veiligheid van verbruikers nie en ons is teleurgesteld oor die uitspraak. Ons simpatiseer met die klaer se familie, maar glo vas die veiligheid van ons kosmetiese talk word ondersteun deur dekades se wetenskaplike bewyse.”

Volgens die BBC se gesondheidsredakteur, James Gallagher, is kommer dat die gebruik van talkumpoeier, veral op die geslagsdele, eierstokkanker kan veroorsaak niks nuuts nie.

“Maar die bewyse is nie klinkklaar nie,” skryf hy.

“Die internasionale agentskap vir kankernavorsing klassifiseer die gebruik van talk op die geslagsdele as ‘moontlik kankerwekkend’ weens die gemengde bewyse.”

Bronne: theguardian.com, reuters.com, bbc.com

Ander stories op Huisgenoot.com:

Zephany Nurse-raaisel verdiep

Houston, ons het ’n superaanhanger! SA man besoek Nasa meer as 60 keer

Ons maak dit maklik – só raak die begrotingsrede jou bankbalans

‘Aantreklike oupa’ se pragtige glimlag op 66 jaar oue foto oorrompel die internet

Kyk: E-sigaret ontplof soos vuurwerk in man se broeksak

Verkeerspolisie ry doelbewus rondloperhond dood sodat ‘dit nie ly nie’