Die akteur (50), wat binnekort in The Lone Ranger te sien is, het in die Julie-uitgawe van die tydskrif Rolling Stone verklap hy is sedert geboorte basies “so blind soos ’n mol” in sy linkeroog en bygevoeg hy is bysiende in sy regteroog. “Alles is baie wasig. Ek kon nog nooit behoorlik sien nie,” het hy vertel. Al sy brille is daarom voorskrifbrille en boonop kan die probleem nie reggestel word nie.

Die pa van twee (hy en die Franse sangeres Vanessa Paradis (40) het twee kinders, Lily-Rose (14) en Jack (11)) sê hy kan net ’n paar sentimeter voor hom sien as hy ’n karakter speel wat nie ’n bril of sonbril dra nie.

Intussen het Johnny, wat nou met die aktrise Amber Heard (27) uitgaan, ook onthul hy dink “elke dag” daaraan om Hollywood te verlaat, maar sal dit waarskynlik nie in die nabye toekoms doen nie.

Hy het gesê: “Ek dink terwyl ek die geleentheid, begeerte en kreatiewe vonk het om die goed te doen wat ek nou kan doen, moet ek dit doen. Daarna kan ek dit eendag tot die minimum afskaal en daarop konsentreer om, ek skat, te lewe. Regtig te lewe. En iewers te gaan woon waar jy nie heeltyd op jou hoede hoef te wees of deur die kombuis of die ondergrondse doolhof van die hotel hoef in te sluip nie.

“Op ’n sekere punt, wanneer jy oud genoeg raak of ’n paar breinselle terugkry, besef jy dat jy, op die een of ander vlak, jou lewe as ’n vlugteling gelei het.”

Tog het hy bygevoeg: “Ek weet nie of ek kan ontspan nie. Ek kan nie ontspan nie. Dis nie ’n goeie ding as my brein luier nie. Ek raak vreemd. Ek bedoel, nie vreemd nie. Ek raak kriewelrig.”