Verlede jaar was hy die Britte se glans-pa van die jaar. En tot twee weke gelede was hy ook die Engelse sokkerondersteuners se groot hoop as die kaptein wat hul span in die komende Wêreldbekertoernooi na glorie sou lei.

Maar skielik is niks meer seker nie, want nou weet almal: John Terry (29), die Engelse sokkerkaptein, is maar net nog ’n held met voete van klei.

Nie alleen het hy sy vrou, Toni (28), glo sedert hulle begin uitgaan het al minstens 12 keer met ander vroue verneuk nie, hy het ook een van die vroue swanger gemaak en toe glo vir haar aborsie in ’n luukse kliniek betaal.

En om alles te vererger is dié vrou – die Franse model Vanessa Perroncel – een van sy vrou van die afgelope drie jaar se beste vriendinne en boonop sy eie beste vriend en Engelse spanmaat, Wayne Bridge, se eksmeisie.

Die wêreld wonder nou of John Terry die Engelse se eie Tiger Woods gaan word. Toe die Amerikaanse gholflegende se affair verlede jaar aan die lig gekom het, het ’n rits ander vroue spoedig tougestaan om van hul sekskapades met Tiger te vertel.

Tot dusver het Toni haar man nog elke keer sy ontrouhede vergewe, maar dit lyk asof Vanessa die laaste strooi was. Sy het intussen haar tasse gepak en met hul driejarige tweeling Doebai toe gevlieg. Sy het ook vir John gesê sy wil skei.

Sokkerondersteuners en selfs politici het reeds daarop begin aandring dat die Engelse Sokkerfederasie John as kaptein die trekpas gee.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 11 Februarie.