JY STEL jou voor hoe hy hier in die feestyd rustig sou uitgespan het. Agteroor in sy gunsteling-leunstoel, voete op die koffietafel, bier in die hand, sy blik op ’n paar rugbystewels teen die muur gevestig met so ’n wasige veraf-kyk in sy oë.

Is dit waar John Smit hoort, hier op die rusbank eerder as op die rugbyveld?

Op die ouderdom van 33 is John allesbehalwe oor die muur, maar tog bespiegel leunstoel-rugbykeurders en elke Jan Rap by ’n braaivleisvuur deesdae knaend dat hy nou sy ry moet kry.

Die nasie is in twee verdeel.

Die een kamp sê John se rugby is nie meer wat dit was nie en dat Bismarck du Plessis maar liewer sy rugbystewels moet gaan vol staan by die Wêreldbeker-toernooi in September.

Boonop is sy blokkiesmaag aan die sawwe kant, en beserings vat langer om gesond te word as toe hy in sy 20’s was.

Die ander kamp sê hy is die span se gelukbringer: Wanneer John die kaptein is, gaan die Bokke van krag tot krag. Sulke goeie leierskap is nie te versmaai nie, sê hulle.

Smit draf al sedert sy 22ste jaar vir die Bokke uit. Wie kan vergeet hoe hulle in daardie eerste wedstryd van John in Oos-Londen die vloer met Kanada gevee het? Skaars twee jaar later het Jake White hom kaptein gemaak.

Teen 2009 het hy reggekry wat nog net George Gregan van Australië en Will Carling van Engeland reggekry het: om 59 keer as kaptein in ’n toets te speel – en dit met ’n wenpersentasie van 72 persent. Verlede jaar was hy die 15de speler ooit ter wêreld en maar die tweede een in Suid-Afrika wat in sy honderdste toets kon speel.

Maar sedert hy in 2007 die Bokke tot by ’n Wêreldbeker-oorwinning aangevoer het, het die beserings hom gery. Eers het hy ’n liesbesering opgedoen, en toe het ’n operasie om ’n ou nekbesering te behandel hom verlede jaar vir ’n groot deel van die seisoen van die veld af gehou.

Nou is John reg om vir oulaas terug te keer na die rugbyveld. Maar kan hy dit doen?

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 27 Januarie 2011

Bespreek vir Skouspel!