Die oud-Springbokkaptein John Smit is finaal klaar met beroepsrugby. Smit se Saracens-span het Sondag in die halfeindstryd van die Aviva Premiership-toernooi teen die Northampton Saints verloor. Hy keer nou ná twee jaar by die Engelse span na Suid-Afrika terug om in Julie sy nuwe pos as die uitvoerende hoof van Sharks-rugby te aanvaar.

Die ervare haker het die einde van sy beroepsloopbaan gisteraand op Twitter bevestig: “Wel, dis vreemd om eindelik te sê dat my 16 jaar lange loopbaan vandag tot ’n einde gekom het. Ek is so dankbaar vir elke herinnering, spanmaat, ondersteuner en meestal my vrou omdat sy my toegelaat het om my droom uit te leef ten koste van haar loopbaan. Dankie, almal, vir ’n wonderlike 16 jaar.”

Smit het 111 toetswedstryde vir die Springbokke gespeel waarvan hy 83 keer voorgedraf het as die kaptein. Dit besorg aan hom twee groot rekords: Die Springbok met die meeste toetse, sowel as die meeste toetse as kaptein.

Min Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners sal Smit se grootste prestasies as die kaptein kan vergeet. Hiervan staan veral die Wêreldbekertoernooi-oorwinning in 2007 in Frankryk en die oorwinning oor die Britse en Ierse Leeus op eie bodem in 2009 uit.

Bekendes in rugbykringe het op Smit se twiet gereageer. Bakkies Botha, Smit se gewese Springbok-spanmaat, het getwiet: “Geluk, my legende, nou vir die volgende 16 jaar, om die stories in die raadsaal te geniet, beginnende met STAALDRAAD. Ek sal jou mis.”

Ook Gary Gold, voormalige hulpafrigter van die Springbokke, het “Barney” (Smit se bynaam) se lof besing: “Alle voorspoed vir jou toekoms Barney. Dit is ons almal wat saam met jou kon werk, wat ’n groot dankie moet sê. #WARELEGENDE”

-         Suzaan Hauman