Toe John Seeley verlede Woensdag, 15 Januarie, ’n oproep kry van Basil Lewis, van die DBV in Kimberley, het hy onmiddellik gegaan om nog ’n hond te red, al was hy nog met vakansie.

“As niemand anders dit wil doen nie, moet ek maar inspring en wanneer mense my nodig het, help ek graag,” sê John.

Die hondjie van sowat twee maande het in ’n stormwaterpyp vasgesit.

Evert Brand het die hondjie daar ontdek. Hy en sy seun, Darryn, en vriendin, Ilse Meyer, het Woensdagaand in McDougalweg, Kimberley, gery en ’n teef en haar kleintjies oor die pad sien hardloop. Hulle het stilgehou om die teef en twee kleintjies uit die pad te kry, toe hulle hoor daar tjank nog een. Evert het toe besef hy is in die stormwaterpyp.

Hulle het probeer om die hondjie te red met die brandweer se hulp, maar kon dit nie doen nie, en het John so elfuur die aand gebel.

John is toe by die stormwaterpyp in om die hondjie te gaan red. “Ek weet nie of dit 700 m lank is soos berig nie, maar dit was wel ’n redelike afstand. Ek het haar gevolg en sy het die hele tyd vir my weggehardloop omdat sy verbouereerd was. En dit was moeilik, want ek kon nie hardloop nie; ek moes handeviervoet kruip.

“Op die ou end het die pyp ’n draai gemaak, en toe ek om die draai kom, het sy daar gelê en ek kon haar kry. Ek vermoed sy was maar moeg,” sê John, wat dit nog elke keer geniet om ’n suksesvolle reddingspoging af te handel.

“Dis baie lekker, en veral omdat ek lief is vir diere, is dit vir my baie spesiaal om diere te kan red en hulle nog ’n kans te gee. Soos nou. Ek het ’n klein bietjie ekstra tyd ingesit, maar die hondjie kry ’n hele lewe in ruil daarvoor.”

Volgens John gaan dit baie goed met Kimberleigh, die hond wat hy verlede jaar uit die Groot Gat gered en toe aangeneem het.

“Sy is ’n stunning hond. Alles van haar is spesiaal, en sy en al ons ander honde kom baie goed oor die weg. Al krisis wat ons nou het, is om haar uit die swembad uit te hou! Sy is mal oor swem,” vertel John en lag.