Die missielstelsel wat gebruik is om ’n Maleisiese vliegtuig af te skiet, is deur Rusland se owerhede aan pro-Russiese separatiste in die Oekraïne gegee, het John Kerry Sondag gesê. “Dit is redelik duidelik dat dit ’n stelsel was wat van Rusland in die hande van separatiste geplaas is,” het Amerika se minster van buitelandse sake, John Kerry, gesê. Hy meen ’n gevorderde SA-11-stelsel is in Donderdag se voorval gebruik.
'Dit wys duidelik ’n vinger na die separatiste.'

“Ons weet met vertroue dat die Oekraïners nie so ’n stelsel op enige plek naby die omgewing op daardie tydstip gehad het nie. Dit wys duidelik ’n vinger na die separatiste.”

Die top Amerikaanse diplomaat het ook die “groteske” tonele by die ongelukstoneel veroordeel; hy het gesê rebelle belemmer die ondersoek en die behoorlike verwydering van die lyke van die 298 slagoffers.

Lyke

Internasionale monitors het Sondag gesê pro-Russiese rebelle in die Oekraïne het talle lyke van die ongelukstoneel in treinwaens gelaai.

Die lot van die 298 mense wat Donderdag in Malaysia Airlines vlug MH17 dood is, wat blykbaar afgeskiet is, het ’n groot probleem geword nadat hulle dae lank in mielielande gelê en ontbind het. Wêreldleiers het daarop aangedring dat die Russiese president, Wladimir Poetin, sy invloed gebruik om die rebelle te oorreed om die slagoffers te oorhandig en internasionale ondersoekers toe te laat om die toneel in Grabove te ondersoek. John het Amerikaanse bewyse uitgelê wat volgens hom wys na die separatiste se betrokkenheid in Donderdag se gru-ongeluk. Hy sê hulle het “buitengewone omstandigheidsbewyse”.

'Ons het die beeldmateriaal van hierdie lansering.

“Ons het die beeldmateriaal van hierdie lansering. Ons weet wat die trajek is,” het hy aan NBC se Meet the Press gesê. “Ons weet waar dit vandaan kom. Ons ken die tydsberekening.

“En dit was presies die tyd dat die vliegtuig van die radar af verdwyn het. Ons weet ook van stemidentifikasie dat die separatiste agterna gespog het dat hulle dit afgeskiet het.”

Wat by die ongelukstoneel gebeur, is “regtig grotesk”, want internasionale ondersoekers het nog net beperkte toegang daartoe gehad, het John gesê.

“Daar is berigte van besope separatiste-soldate wat lyke sonder seremonie agterop lorries laai; hulle verwyder lyke asook bewyse van die toneel,” het John gesê.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake het weer ’n beroep op pres. Poetin gedoen om druk op die rebelle uit te oefen om toegang tot die ongelukstoneel te gee.

“Dit is duidelik dat Rusland die separatiste ondersteun, aan hulle voorraad voorsien, hulle aanmoedig en oplei. En Rusland moet hul voet dwars sit en hier ’n verskil maak,” het hy op NBC bygevoeg.

- Sapa