Suzanne Leyden, die Johannesburgse onderwyseres wat drie jaar gelede in ’n beweerde padwoedevoorval ernstig beseer is toe ’n man na bewering haar arm in sy elektroniese venster vasgeknyp en haar tientalle meters gesleep het, het nou eindelik ’n kans om van die beserings te herstel wat sy opgedoen het.

pjimage

Benewens gedeeltelike doofheid het Suzanne (39) onder ook sigprobleme, en sy ly ook steeds aan erge hoofpyne.

Geregtigheid het Dinsdag in die Johannesburgse hooggeregshof geskied toe daar bevind is dat Suzanne (39) geen aandeel in die ongeluk gehad het nie.

Dié oorwinning kom nadat die strafsaak van poging tot moord teen Deon Schoeman (51) van Northcliff, Johannesburg, verlede jaar weens ’n gebrek aan bewyse teruggetrek is.

Met hierdie uitslag word die Padongelukkefonds (POF) verplig om al Suzanne se vorige en toekomstige mediese uitgawes dek. Weens ’n gebrek aan geld kon Suzanne tot dusver nie al die nodige rehabilitasie ontvang wat nodig is vir die beserings wat sy opgedoen het nie.

“Volgens die dokters het die brein eintlik net twee jaar om te herstel. My ongeluk het langer as twee jaar gelede gebeur. Maar ek gaan nie tob oor die verlede nie en konsentreer op dit wat herstel kan word,” het sy aan Huisgenoot vertel.

Sy is verteenwoordig deur Douglas McCusker, pa van die voormalige advokaat Kim McCusker, wat vyf jaar gelede in Lonehill, Sandton in ’n gru-padwoedeaanval onder ’n taxi gesleep is en by die dood omgedraai het.

Die voorval waarin Suzanne op 20 November 2014 betrokke was, is in St. Andrewweg in Hurlingham, ook in Sandton.

Deon het na bewering met sy bakkie van agter teen haar Audi gebots. Toe sy na bewering besonderhede wou uitruil, het dit in ’n stryery ontaard.

Sy wou sy sleutel neem, glo in ’n poging om hom op die toneel te hou. Maar hy het toe na bewering haar arm in die venster vasgeknyp en begin ry. Sy is saam met die motor gesleep en toe sy eindelik meer as 20 m verder loskom, het sy hard met haar kop op die teer geval en ernstige breinbeserings opgedoen.

Nadat die enigste staatsgetuie sy oorspronklike weergawe van die voorval verander het, is die saak teen Deon weens ’n gebrek aan getuienis laat vaar.

Suzanne, die ma van Armand (8), is nou dankbaar dat sy moontlik eendag haar gehoor sal kan herwin.

“Dalk sal ek nou weer mamma vir my seun en Afrikaansjuffrou begin word. Suzanne Leyden pre-20 November 2014 . . .”