Herman Mashaba is Maandagaand na 'n dramatiese sitting van die nuwe metroraad met 144 stemme teenoor Parks Tau, die huidige ANC-burgemeester, se 125 stemme as burgemeester verkies. Dis die eerste keer in meer as 22 jaar wat die ANC Suid-Afrika se belangrikste stad nie sal regeer nie.
DA-raadslede het reeds van vroegaand gesing en dans terwyl stemmery om hoofsweep afgehandel is. Kevin Wax van die DA is as hoofsweep verkies terwyl Vasco da Gama, ook van die DA, vroeër die dag as speaker aangewys is.
Mashaba het kort voor die aankondiging na die EFF se koukus in die Johannesburgse stadsaal, waar die marathon-vergadering van digby 12 ure gehou is, geloop om hulle te bedank. Hy het Mbuyeseni Ndlozi, EFF-hoofonderhandelaar, en Floyd Shivambu, die EFF se hoofsweep in die parlement, bedank vir wat hulle "vir Suid-Afrika gedoen het". Die DA sou die metroraad nie sonder die EFF se steun kon oorneem nie.

Die metrorade van Tshwane (Pretoria), Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth) en Johannesburg word nou almal deur die DA bestuur. Kaapstad is sedert 2006 onder DA beheer. Die verlies van die hoofstad, Goudstad en Vriendelike Stad is beslis 'n gevoelige slag vir die ANC.

Die nuwe burgemeester, 'n skatryk sakeman wat sy fortuin uit die skoonheidsprodukte Black Like Me gemaak het, het in 'n kort toespraak gesê hy hoop om sy burgemeesterskomitee reeds Woensdag bekend te maak. "Ek en my span wil inspring en diens aan almal in die stad 'n prioriteit maak. Wees ook gewaarsku: korrupsie is nou vyand nommer een."

Da Gama het vroeër vandag aan Huisgenoot gesê die DA-stadsregering se eerste drie prioriteite gaan wees om City Power reg te ruk, Pikitup te ondersoek en die voortslepende gemors met munisipale rekeninge uit te sorteer.