Net ’n week gelede moes die familie die televisie- en radioman in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in Centurion groet nadat hy kort tevore doodgeskiet is.

“Ek sal ook nie my ouers, Hansie en Mollie, aanraai om te gaan nie. Die hofsaak sal hulle net ontstel. Buitendien sal die saak verskeie kere uitgestel word voor die strafverhoor begin,” het Rudolph Botha (56) telefonies aan huisgenoot.com gesê. Sy en Johann se ouers is onderskeidelik 87 en 84 jaar oud. 

Johann, onder meer ’n voormalige 50/50-aanbieder, is op 7 Junie saam met sy beste vriend, Werner “Swazi” Perchtold (73), eienaar van die wegneemeterestaurant Zebra Inn, in ’n gewapende rooftog doodgeskiet.

Drie verdagtes is ’n week ná die voorval vasgetrek en sal op Donderdag 22 Junie vir die tweede keer in die Johannesburgse landdroshof verskyn. 

Hulle is intussen as Nkosiyazi Phungula (27), Ntobeko Hlatswayo (32) en Thembi Masethembe Mbatha (19) geïdentifiseer. Die verdagtes staan tereg op twee aanklagte van moord, die onwettige besit van ’n vuurwapen en roof.

Rudolph het gesê hy sal dit dalk mettertyd oorweeg om die verhoor by te woon. Hy voel egter hy kan sy tyd beter benut deur ter wille van sy broer ’n positiewe nalatenskap te vestig. “Ons dink daaraan om ’n trust in Johann se naam te skep. Die trust sal wees om terug te ploeg in die gemeenskap, nes Johann het.”

Al is dit nog net ’n idee, is dit volgens Rudolph waarskynlik iets wat sy broer graag sou wou doen.

“Johann se passie het gelê by die beskerming van die regte van vroue, kinders, diere en die natuur. Ons sal dus graag ter nagedagtenis aan hom iets in daardie lyn wil doen.” 

Intussen probeer die Botha-familie nog Johann se skielike en ontydige dood verwerk. “Die familie staan saam,” sê Rudolph. “Ons het ook ’n groot vriendekring wat ons in hierdie moeilike tyd onderskraag.” 

Kapt. Richard Munyai, woordvoerder vir die Jeppestown-polisiekantoor, het Maandagmiddag bevestig die polisie soek nog na twee manlike voortvlugtige verdagtes.