Gee ’n man ’n krieketkolf en hy kan ’n paar balle moker, stig vir hom ’n klub en hy kan die volgende Makhaya Ntini word.

Nadat die minister van sport en ontspanning, Fikile Mbalula, sowat twee weke gelede weer ’n skoot oor die koppe van sportfederasies gevuur het en sy kommer uitgespreek het oor sport wat nie genoeg transformeer nie, het ’n joernalis en kunstenaar besluit om hierdie probleem self aan te pak.

Die minister het aangekondig sportliggame sal in die toekoms nie meer kan bie om internasionale sporttoernooie soos Wêreldbekerrugby en die Olimpiese Spele aan te bied as hulle nie hul sokkies optrek en transformasieteikens bereik nie.

“Ek is ’n ernstige liefhebber van krieket sowel as ons pragtige Suid-Afrika en het in 2015 toevallig verby die kinders gery waar hulle besig was om in die middel van die bos krieket te speel,” sê Kabous.

Hy sê as joernalis kon hy nie anders as om te stop en die kinders uit te vra oor hul spel en omstandighede nie.

“As krieketliefhebber kon ek ook nie niks doen nie en het dadelik my vriend, Neil van Deventer, gebel om koppe bymekaar te sit.”

Kabous en sy vriende het verlede week ’n kort video op YouTube uitgereik wat op ’n hartroerende manier die kinders se uitdagings en liefde vir die sport uitbeeld.

The Oaks is ’n informele nedersetting waar dié jong krieketspelers onder moeilike omstandighede grootword. “Hierdie kinders leef in ’n ander wêreld,” sê Kabous.

“ ’n Gebrek aan geld veroorsaak dat hulle nie behoorlik aan hul geliefde sport kan deelneem nie, om nie eens te praat van die omstandighede waarin hulle grootword nie.

“Afstand veroorsaak weer dat die kinders se lewens buite die gewone Suid-Afrikaner se sig val.”

Kabous sê hulle beoog om dit te verander deur die nuutgestigte The Oaks-krieketklub. Die klub sal die kinders die geleentheid gee om mee te ding teen ander krieketklubs. “Daarna wil ons een vir een ook elke sportsoort wat ons teëkom van voetsoolvlak af bevorder.”

Kabous sê die kort video is net ’n voorsmakie vir ’n dokumentêre film wat hulle oor die kinders en hul passie vir krieket maak.

“Dis baie pynloser vir ’n besigheid om geld op sportspanne op grondvlak uit te gee as hulle weet hulle gaan publisiteit kry.”

Volgens Kabous het Limpopo-krieket met ’n besending toerusting vir die kinders opgedaag nadat hulle die video gemaak het. Hulle is ook besig om met plaaslike sakelui te onderhandel om skenkings vir die kinders te gee.

“Die droom is om met hierdie kinders te begin en ’n soort bloudruk te bou wat bestaan uit ’n kombinasie van plaaslike sakelui en film en gebruik word om sport op voetsoolvlak op te hef; kortom: om eintlik die regering se werk vir hulle te doen.”

Gaan loer hier om te sien hoe jy betrokke kan raak.

Ander stories op Huisgenoot.com

Prins Harry ‘kon nie wegbly’ van ’n beeldskone Amerikaanse soldaat nie

Bekende SA avonturier en sy trouvrou onthul ekstreme wittebroodplanne

Te skattig! Geliefde Afrikaanse sanger deel eindelik foto’s van vroeggebore kleinding

Ontstoke ma skryf ope brief aan skoonma’s

Hier is die geheim om gewig meer effektief af te skud en boonop af te hou