Joe Jonas het gesê die stories dat hy ’n dwelmprobleem het is nonsens.

Joe (24) is vies oor bewerings dat hy en sy meisie, Blanda Eggenschwiler, se gefuif die rede was dat The Jonas Brothers uitmekaar is. Joe het saam met sy broers Nick en Kevin (25) in die groep gesing.

Die sanger het aan People.com gesê: “Dis belaglik! Ons sê twee of drie weke lank niks nie en dan is ek ’n dwelmslaaf!

“Dis duidelik nie waar nie. Ek het nog nooit in my lewe aan heroïen geraak nie. My meisie ook nie. Dis vir my skreeusnaaks, maar ook frustrerend. Dit maak my briesend as dit oor my meisie gaan. Ek het in die straat afgestap toe mense my vra of hulle vir my ’n drukkie kan gee en hoe rehabilitasie is. Ek het geantwoord: Sê julle my, want ek het nog nooit gegaan nie.”

The Jonas Brothers het ontbind nadat Nick (21) gesê het hy het bedenkinge oor die groep. Joe wil nou graag die feite gee nadat hy ’n paar weke geneem het om die uiteengaan van die groep te verwerk. Hy het gesê: “Ons moes dit almal op ons eie manier verwerk. Ek het tyd nodig gehad om my kop skoon te maak.”

Die hartebreker, wat voorheen met Taylor Swift (23) en Ashley Greene (26) uitgegaan het, sien nou uit na die toekoms. Hy het gesê: “Ek is regtig opgewonde.”