Dit is ook die temalied van die gelyknamige fliek wat volgende jaar 14 Februarie uitgereik word.

Ons het met Joe gaan praat oor sy nuwe liedjie.

Jy het pas jou eerste enkelsnit, Pad na Jou Hart, uitgereik. Hoe voel jy oor die eindproduk?

Ek hou regtig baie daarvan. Ek het hard gewerk aan dié enkelsnit - die skryf, verwerk en opname daarvan. Dit was ’n ongelooflike proses. Ek en Jake Odendaal het die verwerkings en opnames saam gedoen en Jake Odendaal het dit gemeng. Ek het ook weer die kans gekry om die klavierdele op ’n akoestiese vleuelklavier te speel vir die liedjie en ek love dit. Dis hoe ek musiek wil opneem en maak.

Dit is die titelsnit vir die gelyknamige fliek, Pad na Jou Hart, wat volgende jaar 14 Februarie in teaters te sien sal wees. Het jy die lirieke geskryf?

Ja, die woorde en melodie. Toe ek die draaiboek gelees het nadat Ivan Botha dit na my toe gestuur het, kon ek net nie anders as om die woorde te skryf nie. Dis asof dit net na my toe gekom het en geplant was in my hart. Die draaiboek is regtig goed geskryf en het die kreatiwiteit in my wakker gemaak.

Hoe het dit gebeur dat jy genader is vir die spesifieke liedjie?

Die akteurs Ivan Botha  en Donnalee Roberts het my kom sien oor die skryf van die oorspronklike liedjies vir die fliek en ek was dadelik aan boord. Om vir ’n fliek musiek te skryf, is ’n groot droom van my wat waar geword het.

Wat kan ons volgende van jou verwag?

Ek is hard besig om baie opwindende dinge op die been te bring. Ná die uitreiking van Pad na Jou Hart, my debuut-enkelsnit, gaan ek so ’n bietjie op ’n twee maande lange skryfmarathon waar ek dan aan my debuutalbum gaan skryf. Die album se naam gaan Hartklank wees, en dit is presies wat dit sê. Dis liedjies reg uit my hart, net soos Pad na Jou Hart. As ’n skrywer, wil ek graag liedjies skryf waarmee ek my kan vereenselwig. Ek beoog om die album teen Mei 2014 op die rakke te hê.

Hoekom wou jy op jou eie sing?

Ek was nog altyd bedoel om op my eie te sing. Ek het net jare gebou aan my vaardighede en saam met mense gewerk om ondervinding op te doen sodat ek eindelik my ware doel kan uitleef. En die tyd is nou. Die tyd is reg vir my in my hart en die Here het my so gelei deur hierdie proses en my besluit om ’n solosanger te word. Ek het op 13 jaar geweet dis wat ek gaan doen vir ’n lewe. Van daar af het ek al die vaardighede opgebou om op die ou einde op dié punt te kon wees. Ek het ses uur per klavier en sang geoefen en ’n ateljee by die huis begin, en ná skool het ek ’n kwalifikasie gaan kry in klankingenieurswese, musiekverwerking en -vervaardiging in Amsterdam en ook ’n rukkie ondervinding gaan opdoen in Köln in Duitsland. Daarna het ek teruggekom, my ateljee op die been gebring en ander kunstenaars begin opneem. Ek het ook toe meer intens begin konsentreer op liedjies skryf en ná ’n rukkie gevoel ek het nou genoeg ervaring en dit is tyd om terug te gaan verhoog toe en op die pad te wees. Alles tot en met nou is net skills en tools wat ek opgebou het om te kan doen wat ek nou gaan doen. Die Here lei my waar hy wil hê ek moet gaan. Ek vertrou op Hom. Soms gee Hy vir my skielike veranderinge, soos nou in my lewe, en dit daag my uit om na nuwe plekke in die lewe te gaan. Ek is so geseën.

Geniet jy die nuwe uitdaging? Hoekom?

Ek is in die sewende hemel. Ek kan nie verveeld raak met my lewe nie. Ek het uitdagings nodig en ook om myself te kan uitdruk in musiek en wil voel dat elke tree wat ek gee, my uitdaag sodat ek eendag my droom kan bereik om ’n verskil te maak, nie net as ’n sanger, musikant en liedjieskrywer nie, maar ook in mense se lewe.

Het jy ’n musiekgroep? Hoe gaan julle bekendstaan?

Ek het en is so opgewonde daaroor. Jake Odendaal, Hodge en Tain is al jare my vriende en kollegas en ons het al baie saam gewerk en kom goed oor die weg. Ons gaan nie ’n band vorm met ’n naam nie. Ek gaan myself bemark as Joe Foster en ek noem sommer my band op informele manier die Hartklank-band. Joe Foster en die Hartklank-band gaan saam optree en toer en opneem. Ons gaan as ’n span saamwerk aan alles. Van die opname tot die toere en optredes. Ek kon nie vir beter gevra het nie. Hulle is uitstekende musikante, Tain (Thinus Odendaal) het al Amerika plat getoer in die groep Tree63. Vernon kom uit die groep Watershed en ’n klomp ander projekte en Jake Odendaal is ’n uitstekende vervaardiger, kitaarspeler en musikant. Hy het al groot name in ons bedryf opgeneem en is ongelooflik goed in wat hy doen. Ons gaan volgende jaar Maart afskop met ’n Hartklank-toer en sien uit om te kom kuier op verhoë oral in die land.

* Kyk ook uit vir Joe se webtuiste wat einde vandeesmaand bekendgestel word. Hy beloof: Dit gaan ongelooflikwees met unieke produkte en gratis aflaaie van liedjies wat nog nie uitgereik is nie.