Gaan Joe Daleen se hart steel? Hy vertel ons van die drama wat gaan afspeel en van sy reis as ’n solokunstenaar sedert hy Adam verlede jaar verlaat het.

Joe, wat kan jy oor vanaand se episode verklap?

Ek tree in Nagskof (die klub in Binneland) op en sing my eerste enkelsnit, Pad na jou Hart, terwyl Daleen en dr. Tertius luister. Ná ek Daleen ontmoet, is dr. Tertius groen van jaloesie. Toe ek die volgende dag boonop by die kliniek opdaag om Daleen iets te gee wat sy by die klub vergeet het, is daar omtrent drama!

Wanneer wys jy weer gesig op die kassie of in ’n rolprent?

Ek het dit baie geniet om ’n rolletjie in die rolprent Pad na jou Hart te hê én om myself in Binneland te speel; ek sal nie nee sê as ek weer sulke rolle aangebied word nie. Maar ek is glad nie ’n akteur nie; ek is ’n musiekman. Ek sal dit wel geniet om tussendeur my musiekloopbaan weer voor die kamera te wees, selfs al dink ek nie ek is so ’n goeie akteur nie.

Jy’s nou al ’n paar maande op jou eentjie as ’n solokunstenaar. Hoe is die nuwe reis tot dusver?

Al wat ek kan sê, is: WOW! Ek geniet dit gate uit. Dis stresvoller en dis drie keer meer werk, maar ek kla glad nie. Ek volg die Here se plan en luister na Hom voor ek enigiets besluit en doen. Hy maak my deure oop en toe en net Hy weet wat die regte pad is.

Wanneer word jou eerste album uitgereik?

Dit sou in April vanjaar wees, maar ek het ’n boodskap van Bo ontvang dat ek nie soos my ou self alles moet afjaag nie; ek moet geduld hê. Ek wil graag nog in 2014 my eerste soloalbum uitreik en is elke dag besig om te skryf en die konsep daarvan te beplan.

Nog groot planne wat jy met ons kan deel?

Ek begin binne die volgende maand my eie aanlyn winkel en tydskrif op my webtuiste, joefoster.co.za; ek droom nog altyd daarvan. Die tydskrif gaan fokus op my aanhangers, hul lewe en hoekom hulle van my musiek hou; hulle is ongelooflik belangrik vir my.

Gee jy jou hart dié Valentynsdag vir iemand spesiaal?

Ja. Ek gee my hart vir . . . my aanhangers; my hart is net by hulle. Die dag as iemand spesiaals op my pad kom, sal ek dit maar moet deel.

Wat is die romantiesste ding wat jy al vir iemand op Valentynsdag gedoen het?

Ek is ’n baie romantiese ou; as ek dit verklap, gaan dit nie meer so spesiaal wees nie. Ek is wel enkellopend; wat ek ook al gedoen het, het duidelik nie gewerk nie (hy lag). Ek wil graag vanjaar meer tyd maak vir daai aspek van my lewe.

Wat is die romantiesste ding wat iemand al vir jou op Valentynsdag gedoen het?

Sy het ’n tent gehuur en ’n hele kamp in haar agterplaas in Johannesburg opgerig met kampvuur en al. Ek is toe geblinddoek en gelei deur haar huis tot by die “kamp”; dit was ’n absolute verrassing en het baie cool gelyk. Sy het selfs natuurklanke op haar iPod afgelaai en dit heelaand gespeel sodat dit geklink het asof ons regtig in ’n oerwoud is. Ons het die hele aand onder die maan en sterre deurgebring, kitaar gespeel en saam liedjies gesing. Baie spesiaal en romanties, nè?

– Christiaan Boonzaier