Die roerende nuwe musiekvideo vir Joe Foster se enkelsnit In die Reën vir Jou is binne net veertien ure klaar geskiet, vertel die sanger trots.

Hoewel dit klink asof alles in ’n japtrap klaar was, erken Joe dit was geensins kinderspeletjies nie. "Die musiekvideo vertel ’n baie hartseer verhaal vol trane en drama, so saam met die lang ure was dit nogals ’n emosioneel uitsputtende dag," vertel hy.

Die aktrise Simoné Nortmann verskyn ook in die video.

"Die liedjie sê dat jy in iemand vir wie jy lief is se hartseer en pyn sal staan asof jy in die reën staan," vertel Joe oor sy liedjie. "Dis asof jy in hul trane staan en beloof dat elke noot en woord en melodie oor hom of haar gaan."

Huisgenoot reik vandag eksklusief die musiekvideo uit:

In Die Reën Vir Jou is ook op Joe se album Hartklank beskikbaar, maar is spesiaal vir die musiekvideo en radiostasies verwerk.

Joe, wat aan hoogtevrees ly, sê die laaste toneel van die video het vir groot humor gesorg omdat dit op die dak van ’n huis verfilm is. Hy was baie bekommerd elke keer as Simoné of iemand anders waaghalsig geraak het. "Ek was soos Pappa Beer wat die hele span die heeltyd van die kant van die dak af probeer weghou het," vertel hy laggend.

Die video is in ’n huis in Pretoria verfilm tussen nege uur die oggend en elfuur die aand. Vir Simoné was Joe die "sweetste mens wat jy in jou hele lewe sal ontmoet".

“Hy is vriendelik en professioneel en laat mens so op jou gemak voel. Ons het lekker gelag en lekker gehuil.”

Al is sang nie noodwendig haar forte nie, het sy dit in ’n stadium oorweeg om musiekteater te studeer.

Sy sê sy sien vreeslik uit na Huisgenoot se Vir die Voëls-fliek wat 25 November 2016 uitgereik word waarin sy die vroulike hoofrol soeel. “Ek tel die dae af,” vertel sy trots.

Vir meer inligting oor alles waarmee Joe hom besig hou, besoek gerus sy webwerf.