Jodie Foster gaan uit met Ellen DeGeneres se eksmeisie.

Jodie (50) het glo ’n verhouding met die fotograaf Alexandra Hedison. Die aktrise en Cydney Bernard het in 2008 ná 20 jaar uitgemaak.

’n Bron het aan E! News gesê: “Dis ernsig. Hulle is dolverlief.”

Alexandra en Ellen het ’n verhouding van drie jaar gehad voor hulle in 2004 uitmekaar is. Die geselsprogramaanbieder het toe met Portia de Rossi getrou.

Jodie het vroeër vanjaar vir die eerste keer erken sy is lesbies, toe sy die Cecil B. DeMille-prys gewen het. Dis by die Golden Globe Awards vir besonderse prestasie aan haar oorhandig.

Sy het verduidelik sy het gevoel die tyd was reg om te erken sy is gay. Tog het dit nie beteken sy gaan mense ’n oorsig van haar lewe gee nie, want sy is nie interessant genoeg nie.

Sy het gesê: “’n Groot uit-die-kas-toespraak vanaand . . . ek het omtrent duisend jaar gelede, in die steentydperk, uit die kas geklim.

“Destyds, toe ’n brose jong meisie haar hart kon oopmaak teenoor vertroude vriende, en familie, kollegas en dan, mettertyd, met trots, aan almal wat haar geken het. Aan almal wat sy ontmoet het.

“Maar blykbaar nou, hoor ek, word van daardie bekende verwag om die besonderhede van haar privaat lewe met ’n perskonferensie, reukwater en werklikheidsprogram te verklap . . . ek is jammer, dis nie ek nie en sal nooit ek wees nie.

“Maar ondersteun my, asseblief, want my werklikheidsprogram sal vervelig wees. Ek sou met Marion Cotillard moes vry en Daniel Craig se boude slaan net om op die lug te bly.”

Jodie het haar loopbaan op drie begin. Sy erken een van die redes waarom sy haar seksuele oriëntasie geheim gehou het, was omdat sy so lank in die openbare oog was. “As jy moes veg vir ’n lewe wat werklik en eerlik en normaal voel, sou jy dalk ook privaatheid bo alles gestel het.”

Sy het vervolg: “Ek het alles opgegee sedert ek drie jaar oud was, en dis genoeg van ’n werklikheidsprogram, dink julle nie so nie?”