[caption id="attachment_82185" align="aligncenter" width="600"]Foto: Startraks Photo/REX Foto: Startraks Photo/REX[/caption]

Die 81-jarige komediant is na bewering Donderdag hospitaal toe gejaag nadat sy tydens ’n operasie op haar keel ophou asemhaal het.

Joan se assistent, Graham Reed, het kort voor die nuus aan die New York Daily News gesê daar is ’n geringe verbetering in haar toestand.

“Sy is nie wakker nie, maar sy is stabiel,” het hy gesê, maar wou nie nog besonderhede gee nie.

’n Beweerde familiebron het ook gesê Joan se dogter, Melissa, is inderhaas hospitaal toe om by haar ma se sy te wees.

TMZ het eerste bekendgemaak noodhulp is Donderdagoggend om 09:40 na East 93rd Street in Manhattan ontbied vir ’n pasiënt wat “asemhaling- en hartstilstand ervaar”, sê die brandweer in New York.

Die webtuiste beweer Joan het ’n operasie op haar stembande by ’n kliniek ondergaan.

Die paramedici het haar na bewering na die Mount Sinai-hospitaal in New York geneem.

Nog besonderhede oor haar toestand en die soort operasie wat sy ondergaan het, is nog nie bekend nie.

Joan is al jare ’n bekende gesig op die rooi tapyt, en gee nou kritiek oor bekendes se modekeuses op die program Fashion Police.

Sy het vroeër vandeesweek saam met Jessie J die beste en swakste uitrustings by die Emmy-prysaand bespreek.

© Cover Media