Joan Collins is gek na pruike.

Die 80-jarige aktrise dra al 30 jaar pruike, en sy kan nie verstaan waarom daar ’n stigma aan vals haarstukke kleef terwyl haarverlengings so gewild is nie.

Sy het aan HELLO! gesê: “Ek hou van pruike. Dis belaglik dat verlengings op omtrent elke aktrise en model aanvaarbaar is, maar mense hul neus vir pruike optrek.”

Die ster, wat pruike dra sedert sy in die 80’s in die trefferprogram Dynasty verskyn het, dra ’n rooi pruik in haar jongste rol in Molly Moon: The Incredible Hypnotist, waarin sy die leier van ’n groep misdadigers vertolk.

Sy het vertel: “Die verfilming was soveel pret. In een toneel het ek die hele dag in stewels, ’n stywe swart leerbroek en ’n lang rooi pruik uit ’n gepantserde voertuig vol goudstawe geklouter.”

Joan, wat getroud is met Percy Gibson, die bestuurder van ’n teatermaatskappy, dra haar sexy uitrusting met selfvertroue en dink die meeste mense van haar ouderdom sal nie so dapper wees nie.

Sy vertel: “Ek het vir die regisseur gesê: Jy weet, die meeste aktrises bo 40 sou dit nie kon doen nie.”