Joan Collins sê haar vyfde huwelik is haar laaste een.

In 2002 het sy met Percy Gibson in die Claridges-hotel in Londen getrou, en hulle het in 2009 hul geloftes hernieu. In die verlede sou dit dalk nie gehou het nie, maar die ster is oortuig dat dit hierdie keer die Ware Jakob is.
'Dit is my vyfde huwelik en uiteindelik die gelukkigste.'

"Dit is my vyfde huwelik en uiteindelik die gelukkigste. Percy is wonderlik, my sielsgenoot. Dit beteken nie dat ons nie kibbel nie, maar ons verstaan mekaar baie goed,” het sy glimlaggend aan die Britse uitgawe van die tydskrif Hello! gesê.

Joan en haar tweede man, Anthony Newley, het twee kinders gehad en sy het nog ’n dogter by haar derde man, Ron Kass, gehad.

Ten spyte van haar verlede, is Percy oortuig daarvan dat dit werklik ’n geval van “die vyfde keer skeepsreg” is vir die ster van Dynasty.

"Ek was beslis nog nooit gelukkiger nie en ek hoop ek maak vir Joan ook gelukkig, want sy verdien dit beslis,” het hy geborrel.

Soveel geluk beteken natuurlik dat daar baie gelag word – en daarmee saam kom die plooie. Talle Hollywoodsterre sal hulle haas om dit met Botox te probeer regtoor, maar Joan omarm hare met vreugde.

"Ek hou van my lagplooitjies – op my ouderdom sou dit gek wees om sonder hulle te wees – en ek het gelukkig goeie wangbene,” is haar redenasie.

Joan se eerste huwelik was met die akteur Maxwell Reed, wat haar na bewering verkrag het. Van 1985 tot 1987 was sy met Peter Holm getroud.

© Cover Media