Die 2 500ste ster op die Hollywood Walk of Fame is op Donderdag 20 Junie aan Jennifer Lopez toegeken.

Die sangeres se vyfjarige tweeling, Max en Emme, kêrel, Casper Smart, Monster-in-Law-medester Jane Fonda en musiekmedewerker Pitbull was by toe die ster bekendgestel is.

’n Emosionele Jennifer (43) het ’n Dior-rok en Brian Atwood-skoene aangehad. Sy het aan haar aanhangers hulde gebring. “Ek is lief vir julle. Baie dankie dat julle saam met my op hierdie reis gegaan het. Hierdie mylpaaloomblik spoor my aan om harder te werk en groter te droom vir die toekoms. Ek hoop julle voel soos ek dat dit alles die moeite werd was en ek hoop ek het jul harte op selfs net ’n klein manier aangeraak,” het sy gesê.

“Ek is regtig oorweldig. Ek weet nie, dit voel alles half onwerklik, maar ook tog werklik. Dis wonderlik.”

Jane (75) het Jennifer se harde werk en talent geloof. “Sy verdien ’n klomp sterre,” het sy gesê. “Na my mening het sy nog net aan die oppervlak geskraap van dit waartoe sy in staat is.”

Gregory Nava, wat die regisseur van Jennifer se fliek Selena was, het haar beskryf as “die hardwerkendste mens wat ek ken”.

Hy het gesê: “Ons het ’n paar flieks saam gemaak en toe ek die regie vir Selena behartig, het sy opslae gemaak met haar vertolking van Selena. Jennifer het vir my gesê: ‘Greg, ek gaan die eerste Latynse superster word. Ek gaan terselfdertyd ’n nommereenfliek en ’n nommereenrekord hê.’ En ek het gesê: Onmoontlik, niemand doen dit nie. Ja. Onmoontlik vir almal behalwe Jennifer.”