Jennifer Lopez was haweloos nadat sy met haar ma oor haar loopbaan baklei het.

Die sangeres (43) het aan die tydskrif W gesê: “Ek en my ma het koppe gestamp. Ek wou nie verder studeer nie. Ek wou voltyds probeer dans. Toe vat ek en sy ’n blaaskans. Ek het op die rusbank in die dans-ateljee begin slaap. Ek was haweloos, maar ek het vir haar gesê dit is wat ek moet doen. Eers ’n paar maande later het ek in Europa werk gekry as ’n danser. Toe ek terugkom, was ek in In Living Color. Ek het ’n Fly Girl geword en na Los Angeles getrek. Dit alles het in ’n jaar gebeur.”

Al het sy haar nuutgevonde vryheid geniet, het Jennifer dit eers gehaat om in Los Angeles te bly nadat sy uit die Bronx in New York daarheen getrek het.

Sy het verduidelik: “Ek het LA gehaat. Ek het gevra: Waar’s die winkel vir melk? Loop julle ouens nie op straat rond nie? Ek is nou lief vir Los Angeles, maar al die krag wat ek vir die lewe nodig gehad het, het ek van die Bronx gekry.”

Jennifer, wat nou met haar voormalige agtergronddanser Casper Smart (25) uitgaan, het ook onthul sy wil graag haar ambisie en werketiek oordra aan haar Max en Emme, haar en haar eksman Marc Anthony se vyfjarige tweeling.

Sy het gesê: “Ek dink baie daaroor om my kinders te leer hard werk. Ek het iets oor kinders geleer: Hulle doen nie wat jy sê nie, hulle doen wat jy doen. Ek het my ouers dopgehou. My pa het nagdiens gewerk en ek was bewus van hoe baie hy vir ons doen. My ma was ’n Tupperware-dame en het ook by die skool gewerk. Ek het altyd gevoel ek wil hulle nie in die steek laat nie. En ek het van jongs af ’n natuurlike dissipline gehad; ek was altyd aan die oefen vir iets.

“Ek onthou ek het in my slaapkamer voor die spieël gedans en gesing. Ek het nog altyd drome gehad. Die drome het net groter geraak.”