Aanhangers van die Harry Potter-boeke en -flieks sal in die wolke wees oor dié nuusbrokkie.

Die skepper van Harry en sy towervriende, JK Rowling, gaan weer ’n towerwêreld vir die silwerskerm skep.

JK gaan die draaiboeke skryf vir Fantastic Beasts. Die films is uitvloeisels van die karakter Harry Potter en die towerskool Hogwarts. Die eerste van die drie films, wat ook op towenaars gegrond is, sal aan die begin van 2016 uitgereik word, het Warner Bros verlede maand aangekondig.

David Yates is die regisseur van Fantastic Beasts and Where to FindThem, die eerste van die drie flieks. Hy was ook die regisseur van die laaste vier Harry Potter flieks.

Die films word beskryf as ’n “verlengstuk van haar (JK Rowling se) bekende towerwêreld, waar towenaars, kreature en monsters geïnspireer deur Harry Potter se Hogwarts-handboek en die fiktiewe skrywer daarvan sal voortleef”. Die tweede film in die reeks sal in 2018 uitgereik word en die derde in 2020.

Meer as 450 miljoen kopieë van die Harry Potter-boeke is reeds verkoop. JK het in September gesê Warner Bros het haar genader met die idee. Sy het bygevoeg sy wil die skryfwerk nie aan iemand anders oorlaat nie. “Ek het lank in hierdie fiktiewe wêreld geleef en is baie beskermend daaroor.”

BRON: AAP