Wie sou nou ooit kon raai dat ’n voormalige militêre man die boekverkope-leer met ’n volle vaart sou bestyg? Dis egter presies wat gebeur het met die nuwelingskrywer Robert Galbraith. Hy het daarin geslaag om in 450 bladsye die kritici oor te haal met sy debuutroman The Cuckoo’s Calling.

“Daar is geen teken van te bespeur dat hierdie Galbraith se eerste roman is nie,” het die Britse Daily Mail verklaar. “Slegs dat hy wonderlik daarin slaag om Londen vir die leser te laat herleef en om ’n nuwe held te skep. ’n Veelbelowende debuut.”

“Galbraith behaal die seldsame prestasie dat hy ’n ingewikkelde en boeiende speurder en ’n ewe goed gevormde en onwaarskynlike assistent skep en kombineer met ’n misdaad wat jou stomslaan. ’n Ongelooflike debuut,” het Publisher’s Weekly geskryf.

Wonderlike lof vir ’n nuwelingskrywer. Behalwe dat Robert Galbraith glad nie bestaan nie.

Die skrywer van die The Cuckoo’s Calling is inderwaarheid JK Rowling, die skepper van Harry Potter.

“Ek het gehoop ek sou dit effens langer geheim kon hou, want dit was ’n ongelooflike bevrydende ervaring om Robert Galbraith te wees,” het Rowling die Britse koerant The Sunday Times meegedeel nadat Robert se identiteit onthul is.

“Dit was ’n wonderlike ervaring om ’n boek te publiseer sonder enige oordrewe reklame of verwagtinge. Dit was pure plesier om terugvoering te kry onder ’n ander skrywersnaam.”

Dit was juis die Sunday Times wat snuf in die neus gekry het oor “die feit dat ’n nuwe skrywer met ’n militêre agtergrond en die siviele sekerheidsbedryf so ’n selfversekerde debuutroman” kon skryf en daarin kon slaag om die raaisel op te los.

Die roman volg die avonture van Cormoran Strike, ’n oorlogsveteraan wat ’n private speurder word. Strike word gehuur om ondersoek in te stel na die beweerde selfmoord van ‘n ongelukkige model.

The Cuckoo's Calling

Ná die treffer-Harry Potter-franchise, wat die topverkoper-boekereeks in die wêreld was, is dit glad nie verbasend dat Rowling besluit het om bietjie ‘n blaaskansie onder ‘n skuilnaam te vat nie. Sy het onlangs probeer om naam te maak in die volwasse lesersmark met die komiese tragedie, The Casual Vacancy, maar die boek het op sy beste louwarm resensies ontvang.

Noudat die breinkrag agter die boek onthul is, het dit geklim tot bo-aan Amazon se topverkoperslys. Die New Statesman het berig dat die verkope van The Cuckoo’s Calling toegeneem het met 150 000 persent.

Die 47-jarige Rowling, wat volgens Forbes sowat R10 biljoen werd is, het in ’n verklaring bevestig “Robert Galbraith” werk aan ’n opvolg, wat aanstaande jaar op die rakke sal wees.

KIRSTIN BUICK

Bronne: Daily Mail, Associated Press, The Telegraph, The Independent, Little Brown Book Group, The New Statesman

Foto's: facebook.com/JKRowling en jkrowling.com