Luidens die berig deur TMZ het die Los Angeles-polisie Maandagaand ’n oproep ontvang. Met hul aankoms by ’n woning in die Los Angeles-omgewing, het hulle na bewering die liggaam van die Ierse Cathriona, sowel as ’n selfdoodbrief, gevind. In die brief verwys sy blykbaar na die verbrokkeling van haar verhouding met Jim op 24 September.

Die polisie het aan TMZ gesê hulle het pille langs haar liggaam gevind en haar dood is waarskynlik deur ’n oordosis veroorsaak. Sy is blykbaar deur twee vriendinne gevind wat Maandag gaan kyk het hoe dit met haar gaan. Op 25 September, ’n dag nadat hulle na bewering hul verhouding verbreek het, het sy ’n laaste boodskap op Twitter geskryf: “Ek verlaat Twitter en ek hoop ek was ’n bron van lig vir my naastes en geliefdes. (Liefde) vir julle almal.” Jim het Cathriona in 2012 ontmoet en hulle het ’n paar maande uitgegaan voor hulle die verhouding verbreek het. Hulle was weer sedert Mei vanjaar bymekaar. “Ek het met ’n Ierse meisie uitgegaan. Ons sien mekaar nie meer nie,” het Jim in 2012 aan die Irish Independent verklaar nadat hulle toe uitgemaak het. “Maar sy is pragtig.”

© Cover Media