Die 54-jarige akteur het sedert 2012 af en toe met die Iers gebore Cathriona White uitgegaan. Die grimeerkunstenares het haar lewe in September 2015 geneem in haar huis in Sharman Oaks, Kalifornië, deur ’n mengeldrankie van voorskrifmedisyne te drink.

Dit was net enkele dae nadat sy en Carrey na bewering hul verhouding vir die tweede keer beëindig het, en die owerheid het vier verskillende soorte sterk medisyne, asook ’n briefie wat aan die akteur gerig was, by haar liggaam gevind.

White se vervreemde man, Mark Burton, het verlede Maandag ’n hofgeding teen Carey aanhangig gemaak.

Hy voer aan die akteur het die pille waarvan sy ’n oordosis geneem het, aan haar verskaf ten spyte daarvan dat hy bewus was sy was “swak toegerus om hoogs verslawende voorskrifmedisyne sonder die toesig van ’n gelisensieerde dokter te hanteer” en “sy was geneig tot depressie”.

Lees ook: ‘Ek is jammer:’ Jim Carrey se eksmeisie skryf roerende selfdoodbriefie aan hom

Nadat Burton dokumente in Los Angeles ingedien het, het Carrey ’n verklaring uitgereik waarin hy hom daarvan beskuldig dat hy geldelike gewin uit White se tragiese dood probeer maak.

“Ek gaan nie hierdie hartelose poging toelaat om my of die vrou wat ek liefgehad het, uit te buit nie,” het hy verklaar. “Cat se probleem het begin lank voor ek haar ontmoet het, en dis hartseer, maar haar tragiese einde was buite enigiemand se beheer.

“Ek hoop werklikwaar mense sal binnekort ophou om te probeer munt slaan hieruit en haar toelaat om in vrede te rus.” Carrey, wat deur die prokureur Marty Singer in die saak verteenwoordig word, het ook in sy verklaring gesê hoewel hy die saak privaat sou kon oplos, hy dinge wil regstel wat die publiek betref. Lees ook: Jim Carrey se ‘vriendin dood gevind’ “Hoe verskriklik jammer is dit nie. Ek sou maklik met hierdie man se prokureur in ’n agterkamer kon vergader en die saak uit die weg geruim het, maar soms moet ’n mens opstaan en jou eer teen die boosheid van hierdie wêreld moet verdedig,” het hy bygevoeg. Burton soek ongespesifiseerde skadevergoeding en hofkoste by Carrey en hy vra ook die akteur moet vir White se begrafniskoste betaal, te midde van bewerings die komediant het kop uitgetrek ten opsigte van ’n vroeëre aanbod om die koste te dek.

Carrey was op 10 Oktober 2015 ’n slippedraer op White se begrafnis in haar geboortestad, Tipperary, Ierland.

Singer het intussen Burton se hofgeding as “’n geldgrypskema” uitgekryt toe hy deur TMZ.com genader is.

© Cover Media