Hy het ’n beroering op Facebook ontketen met sy aankondiging dat hy hom in 2019 vir die Demokratiese Alliansie (DA) verkiesbaar wil stel – en ongelukkig vir Jeremy Mansfield was nie al die kommentaar positief nie.

[caption id="attachment_153085" align="alignnone" width="600"]Jeremy en sy vrou, Jacqui. Foto: Tumelo Leburu Jeremy en sy vrou, Jacqui. Foto: Tumelo Leburu[/caption]

Sy plasing het Maandag tot ’n stortvloed beledigings gelei en kritici het hom beskuldig van alles van geldgierigheid tot vrouemishandeling.

Maar die voormalige radio-en-TV-persoonlikheid laat hom nie van stryk bring nie.

“Oor sommige van die uitlatings kan ek mense dagvaar, maar natuurlik gaan ek nie,” het hy aan Huisgenoot gesê.

“Ek is gewoond daaraan en het dit beleef toe ek by Radio 702 was en in my dae by Highveld Stereo. Maar dit pla my nie.”

Hy is reeds twee jaar lid van die party, sê hy. Maar nadat hy sy jare lange vriend en DA-lid van die Oos-Kaapse wetgewer, Ross Purdon, besoek het, het hy besluit hy wil die volgende stap doen.

Sy besluit om hom verkiesbaar te stel, was nie op die ingewing van die oomblik nie, hou hy vol. Jeremy (53) is al die afgelope twee jaar met DA-lede in gesprek. Hy voeg by dit was Ross wat hom die finale besluit laat neem het.

Dit is nog nie duidelik presies watter rol Jeremy sal aanneem nie; hy sê hy is nog in gesprek met die party oor die besonderhede.

Maar die voormalige Laugh Out Loud-aanbieder is vasbeslote om sy jare van ervaring in die uitsaaibedryf ten goede te benut.

“Daar is (verskeie) gebiede waarop ek dink ek ’n verskil kan maak,” sê Jeremy. “Met my ervaring in die uitsaaiwese sal ek probeer verseker dat die SAUK as ’n openbare uitsaaier gebruik word pleks van om die ANC se menings te lug.

“Ek het (ook) sterk wortels in kuns en kultuur en ’n passie vir diereregte; daar is ’n magdom wette wat die regering verontagsaam.”

Jeremy voel dit is tyd vir “ware verandering” in Suid-Afrika.

“Daar is baie goed wat ek met (die ANC) verkeerd vind. Polities maak hulle strategies slegte besluite.”

“Kyk wat nou gebeur. Toe (Solly) Msimanga, Tshwane se burgemeester, na Taiwan gaan, wou hulle hom van verraad aankla weens hul Een China-beleid, maar toe Ross Davies dit in 2014 doen, het niemand iets gedoen nie.

“Daar is geen samehorigheid in die ANC nie – hulle het die kern verloor van wat die kongres was en waarvoor dit gestig is – hul beginsels is verlore.”

Facebook-kritici het Jeremy daarvan beskuldig dat hy by die politiek betrokke raak vir die geld, maar hy sê dis van alle waarheid ontbloot; trouens, hy sal geen besoldiging van die staat aanvaar nie.

“Ek kan na myself kyk. Ek het baie hard gewerk en baie versigtig belê en enigiets wat ek wel verdien, sal na liefdadigheidsorganisasies vir diere gaan.”

[caption id="attachment_153086" align="alignnone" width="579"]Jeremy en Jacqui was in 2011 vir sewe dae in Tripoli waar hulle probeer om die vergete diere in die Tripoli-dieretuin te red. Foto: Argief Jeremy en Jacqui was in 2011 vir sewe dae in Tripoli waar hulle probeer het om die vergete diere in die Tripoli-dieretuin te red. Foto: Argief[/caption]

Jeremy en sy vrou, Jacqui, is al jare lank aktiviste vir diereregte en lede van die DBV.

“Maar dit strek verder,” sê hy. “Ons wou ’n veldtog, First Strike, begin wat ons nie kon nie weens die regstelsel.”

“Dis ’n bewese feit dat elke enkele massamoordenaar en verkragter in Amerika begin het deur diere te mishandel. Ons wou First Strike deur die landdroshof laat instel waarvolgens mense wat diere mishandel, gestraf en dopgehou word.”

Maar dit het nie die afgelope week die stortvloed beledigings op Facebook gekeer nie – ’n kommentator het Jeremy selfs met die omstrede Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr vergelyk.

“Ek sing nie naastenby so goed soos hy nie,” skerts Jeremy.

“Steve is eerder ’n aktivis. Dis nie te sê iets skort daarmee nie, maar ek voel ek verbind my tot ’n party met beginsels en ’n leierskap.”

Noudat hy moue oprol om hom in die Suid-Afrikaanse politiek te begewe, wat van sy voorneme om na Mauritius te verhuis?

“Ek het dit oorweeg, maar dit was suiwer om belastingredes. Nadat ek daarteen besluit het, kon ek óf agteroorsit en kerm en kla, soos baie van die mense op my Facebook(-tydlyn), óf inspring en iets positiefs doen en ’n verskil maak.”

Nadat hy met Huisgenoot gepraat het, sou Jeremy Woensdag met Mike Moriarty, Gautengse hoofsweep, beraadslaag om sy toekoms in die politiek verder te bespreek.