Daar is bevestig dat Jennifer Lopez na American Idol gaan terugkeer.

Die sangeres van On The Floor sal saam met Harry Connick Jr. en die terugkerende beoordelaar, Keith Urban, in die beoordelaarspaneel sit wanneer die program volgende jaar vir sy 13de reeks terugkeer.

Die 44-jarige popster keer teen ’n stewige salaristjek van na bewering ’n yslike R174 miljoen terug na die paneel waarvan sy in 2011 en 2012 ’n lid was.

Randy Jackson, wat vroeër vanjaar as ’n beoordelaar uitgetree het, sal nog sy verskyning maak, maar as ’n interne mentor by tonele.

Kevin Reilly, die voorsitter van vermaaklikheid by die netwerk Fox, het die paneel so beskryf: “Jennifer Lopez, die driedubbele bedreiging en ’n wêreldwye superster wat vol liefde is en oor wie Idol-bewonderaars gek is; Harry Connick Jr., ’n bona fide musikale genie en fantastiese Idol-mentor wie se eerlikheid en vernuf sterre uit hoopvolles kan maak; Keith Urban, ’n veelvuldige Grammy-wenner wat verlede seisoen so ’n goeie invloed op die program gehad het.

“Ons is ook baie opgewonde om ons vriend Randy Jackson nou in ’n nuwe rol as ’n mentor en kaptein van ons span te hê; en die hart en siel van Idol, Ryan Seacrest, wat as die aanbieder terugkeer.”

Die skommeling van beoordelaars kom nadat Keith en Randy, wat toe saam met Mariah Carey en Nicki Minaj in die paneel was, se gewildheid in die 2012-reeks gedaal het.