’n JLo-bewonderaar dagvaar haar glo omdat sy hom na bewering gekul het sodat hy naakfoto’s van hom aan haar sou stuur.

Jennifer Lopez (44) is by ’n vreemde hofsaak betrek. Rodrigo Ruiz dagvaar die sangeres vir meer as R100 000 omdat sy hom glo ’n poets gebak het.

Rodrigo beweer hy het in 2008 drie briewe van Jennifer gekry waarin sy ’n oudisie-CD en kaalfoto’s van hom vra. Hy beweer sy wou die kasset hê sodat sy sy musiekloopbaan van stapel kon help stuur.

In een van die briewe staan: “Ek wou jou net laat weet, ek onthou jou en stel in jou belang. Ek beplan om my man te verlaat. Ek kan nie nou baie sê nie; dus is dit nou genoeg. Stuur vir my foto’s van jou met en sonder klere.”

Nadat hy die briewe en foto’s aan haar gestuur het, het Rodrigo glo nooit weer van haar gehoor nie. Hy beweer die briewe het hom laat glo daar wag dalk ’n musiekloopbaan en romantiese verhouding met JLo. Toe sy hom nie beantwoord nie, het hy terneergedruk geraak. In ’n vreemde wending het Rodrigo toe uitgevind dit was bedrog, en die briewe is in Kalifornië gepos. Dis gestuur deur ’n 53-jarige vrou wat beweer sy behartig JLo se bewonderaarspos.

Luidens berigte het Jennifer se bestuur die eis verwerp en geantwoord: “Dis ’n kleinsake-eis wat lyk na ’n wanhopige poging om berug te wees. Me. Lopez het die eiser nog nooit gesien of ontmoet nie, en ook nooit met hom gekommunikeer nie. Ons glo hierdie saak moet summier verwerp word.”

Koketso Mashika (@koketsoMashika)

Bronne: http://perezhilton.com http://www.tmz.com