Dit lyk of Jennifer Lopez (43) gaan terugkeer na American Idol noudat haar bestuurder, Benny Medina, die moontlikheid daarvan met die program se base bespreek.

Mariah Carey (43) en Nicki Minaj (30) het juis verlede week bekendgemaak hulle wil die talentprogram verlaat om op hul musiekloopbane te konsentreer.

’n Bron het aan RadarOnline.com gesê: “J.Lo se bestuurder, Benny Medina, het al voor Mariah en Nicki verlede week hul uittrede aangekondig het vir Fox gesê sy wil terugkeer, maar die onderhandelings is nog in die beginfase.”

Fox se base wil kykertalle ’n hupstoot gee nadat die syfers vir die afgelope seisoen se slotprogram na 14,2 miljoen gedaal het – die laagste nog sedert die program in 2002 begin het. Hulle meen die beoordelaarspaneel moet vernuwe word.

’n Bron het bygevoeg: “Dis onwaarskynlik dat dié seisoen se vierde beoordelaar, Keith Urban, sal aanbly.”

Intussen wil Jen in Los Angeles, Kalifornië, nes skop en soek nou kleuterskole vir haar vyfjarige tweeling, Max en Emme – haar kinders by haar derde man, Marc Anthony.

’n Bron het gesê: “Die tweeling gaan binnekort kindertuin toe en standvastigheid is in hierdie tyd belangrik. Jennifer kyk nou in Los Angeles na moontlike skole vir die kinders.”

Na gerugte sal Kelly Clarkson (31) en Jennifer Hudson (31) ook by die beoordelaarspaneel aansluit wanneer die nuwe program in die herfs begin.