Jennifer Aniston en Justin Theroux het glo weer hul troue op ys gesit terwyl hulle op werk konsentreer.

Die ster van We’re the Millers, wat in Augustus 2012 op Justin se 41ste verjaardag verloof geraak het, was in September druk besig om hul troue te beplan, maar het onlangs eers alles gelos, ook haar begeerte om ’n baba te hê, sodat sy haar kan toespits op haar loopbaan.

’n Bron na aan die destydse Friends-aktrise (44) het aan die tydskrif People gesê: “Sy het al haar vriende betrek en het opgewonde gelyk daaroor.”

Maar volgens die bron het Jen onlangs gesê “sy moet op haar werk konsentreer”. Jennifer, wat voorheen met Brad Pitt getroud was, is nie meer so bekoor met die idee om kinders te hê nie.

“Daar was al sprake van babas, maar dis nie waarop sy nou konsentreer nie. Sy is bewus daarvan dat haar ouderdom dit moeiliker maak en haar houding is: ‘Dis wonderlik as dit gebeur, maar as dit nie gebeur nie, was dit nie so bestem nie.’”

Die paartjie, wat verlief geraak het op die stel van Wanderlust in 2010, het al op ’n keer hul somertroue uitgestel om opknappings aan hul nuwe huis in Bel-Air te voltooi. Jennifer het vroeër vanjaar gesê dit voel of hulle reeds getroud is. “Ons wil dit doen wanneer dit perfek is, wanneer ons nie haastig is nie en sonder die gejaag van werk. En dit voel of ons reeds getroud is.”

Justin en Jennifer was onder die talle beroemde gaste, onder wie Gwen Stefani, Gavin Rossdale, Gwyneth Paltrow en Reese Witherspoon, wat verlede naweek Robert Downey jr. se partytjie vir sy vrou Susan se 40ste verjaardag in Sausalito, Kalifornië, bygewoon het.