Jennifer Aniston sê haar troue was “heerlik privaat”. Mense het so lank gegis oor wanneer sy en Justin Theroux eindelik sou trou dat niemand dit regtig kon glo toe hulle op 5 Augustus in ’n herehuis in Bel Air afgehaak nie.

Sy was by die première van haar nuwe rolprent, She’s Funny That Way. Terwyl sy daar was, het sy verslaggewers vertel wat haar groot dag so spesiaal gemaak het.

“Ons het die heerlike weelde van ’n besonderse privaat oomblik gehad, en ek gaan selfsugtig wees en dit net so hou!” het sy glimlaggend gesê.

Jennifer wou nie nog besonderhede gee nie en het volgehou sy gaan geen inligting omtrent haar rok uitlap nie.

Dit was ’n klein onthaal met ongeveer 70 gaste, onder wie intieme vriende soos Courteney Cox en Ellen DeGeneres. Robert Downey jr. en Howard Stern het toesprake gelewer.

Dit was spesiaal omdat “ons die vreedsaamste, privaat belewenis kon geniet, en dit saam met ’n klompie besonderse, wonderlike – duidelik betroubare – mense”, het Jennifer gesê.

Die seremonie was ’n groot verrassing vir al die betrokkenes; hulle was onder die indruk dis ’n partytjie om Justin se 44ste verjaardag te vier.

Hoe het hulle dit dan reggekry om alles so geheim te hou? “Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg,” het sy met ’n glimlag aan Access Hollywood gesê. “Dit kan gedoen word.”

© Cover Media