Die aktrise en haar verloofde was glo druk besig om ’n somertroue te beplan, maar het dit uitgestel omdat die opknappingswerk aan hul herehuis in Los Angeles hulle te besig hou.

“Die trouringe is ontwerp en Jen het reeds op ’n rok besluit,” het ’n bron aan die tydskrif People gesê. Maar die “troupraatjies het gestop” omdat Justin en Jen ’n ogie moet hou die opknappingswerk van R60 miljoen aan die huis van 8 500 vierkante voet, wat Jennifer verlede jaar vir R210 miljoen gekoop het.

Maar ten spyte daarvan dat die troue uitgestel is en hul skedules bots, is Jennifer (44) en Justin (41) nog toegewy aan mekaar. Hulle “moet net uitpluis hoe om ’n lewe te skep wat albei gelukkig maak”.

Volgens die bron “kan Jennifer nie meer wag om Justin se vrou te wees nie”.

Die aktrise het verlede jaar aan Justin verloof geraak en wil glo by haar nuwe huis afhaak – nou is sy bekommerd omdat die opknappings nog nie klaar is nie.

“Jennifer is besig om kop te verloor oor die troue. Die seremonie moet by die nuwe huis gehou word, maar sy is nou ál meer oortuig daarvan dat die opknappings nie betyds gaan klaar wees nie en dat alles ’n ramp gaan wees. Dis ’n nagmerrie.”