Jennifer Aniston het glo ’n uitnoding van Brad Pitt om te gaan uiteet afgekeur toe die twee onlangs albei in Londen was. Die akteur was in die stad om voorbrand te maak vir sy nuwe Tweede Wêreldoorlogfliek Allied, sy eerste groot openbare verskyning sedert die nuus gebreek het dat hy en sy vrou van twee jaar, Angelina Jolie, gaan skei.

En net ’n entjie daarvandaan het Jennifer haar nuwe fliek, Office Christmas Party, by die BBC bemark.

Maar hoewel Brad glo gretig was om die voormalige Friends-aktrise te sien, was die gelukkig-getroude Jennifer effe meer terughoudend, het ’n bron aan die tydskrif Heat gesê. “Hy’t haar gebel en hulle het kortliks gesels. Maar Jen, wat getroud is met die akteur Justin Theroux, het vir Brad gesê hoewel sy hom in gees sal ondersteun, sy nie tyd het om hom te sien nie,” het die bron gesê. Lees ook: Het Brad Pitt dalk ’n nuwe liefie? Die 52-jarige akteur het ’n rowwe tyd agter die rug. Brad is onlangs vrygespreek van enige oortreding in ’n ondersoek deur die departement van kinder- en gesinsdienste in Los Angeles ná gerugte dat hy sy seun, Maddox, mishandel het in ’n voorval aanboord ’n privaat straler.

Jennifer (47) is betrek by haar eksman se verhoudingsprobleme toe haar naam oral op Twitter opgeduik het ná die nuus dat Brad en Angelina gaan skei. Brad het glo per e-pos aan haar om verskoning gevra, maar toe hy besef hulle is albei in dieselfde stad, wou hy dit met ’n vriendskaplike ontmoeting opvolg. Die bron sê Jennifer wou dit nie waag om te gaan uiteet met haar eks nie, al was hulle net ’n paar minute weg van mekaar in Londen. Lees ook: Jennifer Aniston se man deel subtiel die middel vinger vir Brad Pitt “Sy’s gelukkig getroud en dit sou ’n klap in Justin se gesig wees om Brad te onmoet. Sy weet wat maak saak en dis haar huwelik.”

Brad het aansoek gedoen om gesamentlike toesig van sy kinders nadat Angelina in September die egskeiding in Los Angeles aanhangig gemaak het.

Die akteur hoop om vreedsaam aan te beweeg, maar volgens berigte het die pa van ses die afgelope Thanksgiving-naweek saam met ’n pel by die privaatvilla Amanyara in die Turks en Caicos-eilande deurgebring nadat Angelina hom nie genooi het om tyd saam met hul kinders deur te bring nie.

© Cover Media