Emma Roberts was oorstelp toe sy Jennifer Aniston ontmoet.

Die 22-jarige aktrise, wat saam met die Jennifer (44) in die nuwe komedie We’re the Millers speel, het verklap sy was oorweldig toe sy die aktrise ontmoet en nie geweet het hoe om haar naby die ster te gedra nie.

Op ’n vraag hoe dit was om die Hollywood-ster te ontmoet, het Emma aan die tydskrif InStyle gesê: “Surrealisties. Toe ek haar ontmoet, het sy na my toe gekom en my ’n vet druk gegee. Ek was so oorstelp dat ek net met my arms langs my sye gestaan het. Ek het net gesê: Haai, ek is so senuagtig om jou te ontmoet.”

Nie dat Emma nie A-lys-sterre gewoond is nie; sy is immers verwant aan die aktrise Julia Roberts (45).

Emma het ook vertel sy het die hoogste agting vir Johnny Depp (50) nadat sy in 2001 saam met hom in die Amerikaanse biorolprent Blow gespeel het.

Sy het verduidelik: “Ek het destyds nie regtig geweet wie hy was nie, maar nou . . . Ek het ’n swart-wit foto van hom in my huis wat hy onderteken het met: ‘Aan Emma, een van die mooiste mense wat ek nog ontmoet het.’ My vriende kan hul oë nie glo wanneer hulle kom kuier nie.”