Jennifer Aniston se lewe as pasgetroude is glo “wonderlik”.

Dié 46-jarige aktrise en Justin Theroux is in Augustus 2015 ná vier jaar saam getroud. En toe sy onlangs in ’n onderhoud oor die getroude lewe praat, het Jennifer vertel sy is mal oor elke aspek van getroud wees.

“Dis wonderlik. Ek is mal daaroor!” het sy laat hoor.

En Justin voel dieselfde. Hy het in ’n onderhoud in September gesê om getroud te wees het hul verhouding sterker as ooit gemaak.

“Daar is ’n verskuiwing op ’n wonderlike manier wat ’n mens se ingesteldheid verander, en op ’n vreemde manier het ek gedink dit het ’n lang ruk geduur, maar dit het ons ook op die regte plek gebring,” het hy aan Good Morning America gesê. “Dis ’n wonderlike ding.”

Jennifer is steeds een van die mees gesogte aktrises in Hollywood en het bewys ouderdom beïnvloed nie die rolle wat jy aangebied word nie. Een ding waarna sy nie uitsien nie, is om 47 te word op 11 Februarie.

“Is my verjaardag om die draai?” het sy aan die tydskrif People tydens ’n onderhoud gevra. “Ag, dis belaglik. Dis te gou daarvoor. Ek gaan dit vanjaar oorslaan. Dalk vier ek dit net stil-stil. Maar ek is mal oor enige verskoning vir ’n partytjie.”

Hoewel sy nader aan 50 as 40 is, spog Jennifer nog met ’n ferm lyf wat sy hard werk om so te hou. Die voormalige ster van Friends hou vol sy gaan nie haar bikini wegpak soos sy ouer word nie en wil graag die eerste 80-jarige in ’n bikini wees!

“As ek die eerste 80-jarige kan wees wat ’n bikini met sukses dra, sal ek so maak. Ek dink nie enigeen moet iets stop net oor ouderdom nie. Dis twak.”

© Cover Media

Toets jou kennis: Hoe goed ken jy Friends?