Verlede maand het redakteurs van skinderkoerante en -webtuistes skoon betotteld geraak nadat hulle vakansiefoto’s van die voormalige Friends-ster en haar man, Justin Theroux, beskou het as fotografiese bewyse dat die aktrise swanger is.

Op een van die foto’s dra sy ’n lang baadjie en lyk dit asof sy ’n groter maag met ’n handsak bedek, terwyl ander foto’s van die egpaar wat sonbaai, party laat glo het die 47-jarige het ’n bababoepie.

Maar haar verteenwoordiger, Steven Huvane, het gou die gerugte afgeskiet dat sy verwag en aan WENN gesê die storie is “’n volslae versinsel” en “Jennifer is nie swanger nie”.

Dinsdag het die gewoonlik swygsame aktrise ’n sterk bewoorde brief aan The Huffington Post geskryf. Daarin beskryf sy haar frustrasie oor die “leuens” wat skinderblaaie regdeur haar loopbaan publiseer.

“Die feit is: Ek is nie swanger nie. Wat ek is, is keelvol,” skryf sy. “Ek is keelvol van die sportagtige beoordeling en afkraking van mense se liggaam wat daagliks onder die dekmantel van ‘joernalistiek’, die ‘Eerste Wysiging’ (van die Amerikaanse Grondwet) en ‘glansnuus’ plaasvind.

“Elke dag word ek en my man geteister deur tientalle aggressiewe fotograwe wat buite ons huis wag en wat tot skokkende uiterstes sal gaan om enige soort foto te bekom, al beteken dit om ons in die gevaar te stel of die ongelukkige voetgangers wat toevallig naby is. Maar die aspek van openbare veiligheid tersyde; ek wil op die fokus op wat hierdie gekke skinderkoerant-ritueel vir ons almal verteenwoordig.” Sy gaan voort: “As ek die een of ander simbool vir party mense is, is ek duidelik ’n voorbeeld van die lens waardeur ons, as ’n samelewing, ons moeders, dogters, susters, vroue, vriendinne en kollegas beskou. Die objektivering en beoordeling waaraan ons vroue onderwerp, is absurd en ontstellend. “Hoe die media my uitbeeld, is bloot ’n weerspieëling van hoe ons vroue oor die algemeen sien en uitbeeld, gemeet aan die een of ander skeefgetrekte standaard van skoonheid.” Jennifer verduidelik hoe hierdie onbereikbare opvattings van skoonheid by jong meisies begin, maar onvermydelik in volwassenheid voortgesit word, en voeg by: “Ons gebruik ‘nuus’ oor bekendes om die verontmenslikende beskouing van vroue voort te sit, slegs op ’n mens se liggaamlike voorkoms gefokus, wat skinderkoerante in ’n sportgeleentheid van bespiegeling omskep.

“Is sy swanger? Eet sy te veel? Het sy haar verwaarloos? Is haar huwelik op die rotse, want die kamera bespeur die een of ander liggaamlike ‘onvolmaaktheid’. Die objektivering en kritiese waarneming waaraan ons vroue onderwerp, is absurd en ontstellend.”

Die aktrise sê in die lig van onlangse tragedies in Amerika en elders word haar beskouing van die onregverdige manier waarop vroue in die media behandel word, nou meer gehoor. Sy skryf: “Die louter hoeveelheid hulpbronne wat die pers nou daaraan bestee om bloot te probeer onthul of ek swanger is of nie (vir die biljuisendste keer . . . maar wie tel) dui op die voortsetting van die siening dat vroue op die een of ander manier onvolledig, onsuksesvol of ongelukkig is as hulle nie getroud is en kinders het nie. “In die jongste vervelige nuussiklus oor my persoonlike lewe was daar massa-skietvoorvalle, veldbrande, groot besluite deur die hooggeregshof, ’n naderende verkiesing, en vele ander nuuswaardiger sake waaraan ‘joernaliste’ hul hulpbronne kon wy.” Jennifer voeg by vroue moenie toelaat dat ander, veral die media, hul vooropgestelde weergawe van “gelukkig vir altyd” bepaal nie. “Ons is volledig met of sonder ’n maat, met of sonder ’n kind,” skryf sy. “Ons kry die kans om self te besluit wat mooi is wat ons liggaam betref. Ek is al moeg van deel wees van hierdie narratief.

“Maar ek jaag nie moederskap na omdat ek op die een of ander manier onvolledig voel nie, soos ons glansnuus-kultuur ons almal laat glo nie. Ek voel gegrief dat ek moet voel ek is ‘minder as’ want my liggaam verander en/of ek het ’n burger vir middagete geëet en is uit ’n vreemde hoek afgeneem en daarom word gemeen ek is een van twee goed: ‘swanger’ of ‘vet’.

“Om nie eens te praat nie van die pynlike ongemaklikheid wat daarmee gepaardgaan om deur vriende, kollegas en vreemdelinge met jou fiktiewe swangerskap geluk gewens te word (dikwels ’n dosyn keer op ’n enkele dag).”

Jennifer sluit haar opstel af deur ’n beroep op alle vroue te doen om hul beskouing te verander oor wat hulle in die skinderkoerante en aanlyn lees.

“Uit jare se ervaring het ek geleer skinderblaaie se handelswyse, hoe gevaarlik ook al, sal nie verander nie, ten minste nie binnekort nie.

“Wat kan verander, is ons bewustheid van en reaksie op die giftige boodskappe wat verborge is in die skynbaar skadelose stories wat as die waarheid opgedis word en ons idees vorm van wie ons is.

“Ons kan besluit hoeveel daar van ons aanvaar. Dalk sal die skinderkoerante eendag verplig word om die wêreld deur ’n ander, mensliker lens te beskou wanneer verbruikers ophou om dié snert te koop.”

© Cover Media