Die paartjie, wat onlangs weens hul besige program hul troue uitgestel het, bring soveel moontlik tyd saam deur en wil teen die einde van die jaar trou, hoewel hul planne nog nie gefinaliseer is nie.

’n Bron naby aan die aktrise (44), wat in New York besig is met die verfilming van Squirrels to the Nuts, het aan die tydskrif US Weekly gesê die aktrise en Justin (41) is steeds “dolverlief’’. Die paartjie het verlede Augustus verloof geraak en wil nog trou, maar is te besig om die troue te reël.

Die bron het bygevoeg Justin ondersteun Jennifer ten volle terwyl sy op haar loopbaan konsentreer en besoek haar gereeld op die rolprentstel. “Justin wag in Jen se woonwa terwyl sy werk.”

Voorheen is berig die twee het stry gekry oor of hulle in New York of Los Angeles gaan woon en het daarom die troue uitgestel.

Maar volgens die bron gaan dit goed met hulle. “Hulle het nog net nie hul planne gefinaliseer nie.”