Jennifer Aniston is moeg daarvoor om gevra te word of sy swanger is.

Die We’re The Millers-ster het ook geskimp sy het geen planne om ’n baba te kry nie omdat sy “so tevrede” is met die familie wat sy reeds het.

Die 44-jarige aktrise, wat verloof is aan die akteur Justin Theroux (41), het op Woensdag 7 Augustus aan ABC News gesê: “Ek omring myself met my fantastiese werk, my fantastiese vriende, my fantastiese lewensmaat en my pragtige honde en ek luister nie na daardie geluide nie. Ek meen, ek dink dis gaaf dat mense alles vir my wil hê.”

Sy het volgehou dat sy “gelukkig en tevrede” is en bygevoeg: “Wel, familie beteken vir my die familie wat ek gekies het. My vriende en lewensmaat is werklik my familie.”

Jennifer was voorheen getroud met Brad Pitt (49), wat nou ses kinders grootmaak saam met sy verloofde, Angelina Jolie (38). Jen het verklap sy vind dit frustrerend as mense haar oor haar gesinsplanne uitvra “deur dit aan die rolprent te koppel met: ‘O, as jy ’n kind sou hê, hoeveel kinders wil jy hê?’ En: ‘Wil jy ’n seun of dogter hê?’

“Ek het nie besef ’n mens kan bestellings plaas nie! Ek het eerlikwaar nie besef dis soos by ’n deurry-restaurant nie, dat jy met ’n klein elektroniese stemmetjie kan praat.”

Om haar lyf reg te kry vir haar rol as ’n eksotiese danseres in We’re The Millers het Jen ses dae per week geoefen.

Sy het gesê: “Dit was werklik die gekste oefeninge. My dieet was nog altyd taamlik skoon, maar ek dink ek was super, super streng. Waar ek gewoonlik een of twee keer per week gekul het, het ek dit nou glad nie gedoen nie.”

Jason Sudeikis (37) en Emma Roberts (22) is ook te sien in dié komedie.