Jennifer Aniston het glo haar reisplanne verander om te keer dat sy in Angelina Jolie vasloop.

Jen het glo gespring om ’n ongemaklike ontmoeting met haar eksman, Brad Pitt, se verloofde te vermy nadat sy uitgevind het hulle het albei eersteklaskaartjies vir dieselfde British Airways-vlug Sondagaand van Los Angeles na Londen.

’n Bron het aan E! News gesê die aktrises het geen idee gehad hulle gaan op dieselfde 11 uur lange vlug wees nie, maar ’n werknemer by die lugdiens het met Jennifer se assistente in aanraking gekom om haar oor die potensieel ongemaklike situasie te waarsku.

Jen (44), wat op pad Londen toe was vir die première van haar nuwe fliek, We’re The Millers, het besluit om eerder Maandag ’n vlug te haal. Die première is Woensdag.

Albei aktrises gaan gewoonlik in The Dorchester-hotel in Londen tuis, maar nie een van hulle bly vandeesweek daar nie.

Jennifer, wat verloof is aan die akteur Justin Theroux (42), het al erken sy was gebroke toe haar en Brad (49) se huwelik op die rotse loop kort nadat hy en Angelina (38) die rolprent Mr. and Mrs. Smith geskiet het.

Sy het uitgevaar teen Angie, wat nou ses kinders saam met Brad grootmaak, nadat Angie vertel het hoe hulle tydens die maak van die rolprent verlief geraak het.

Sy het gesê: “Daardie stories oor hoe sy (Angelina) elke dag nie kon wag om te gaan werk nie? Dit was regtig nie koel nie.”