Die aksiester Jean-Claude Van Damme het onlangs gewys hy kan nog sy beroemde split doen, selfs al is hy tussen twee bewegende vragmotors gebalanseer. Nie sleg vir ’n 53-jarige nie!

In ’n nuwe advertensie vir Volvo-vragmotors lyk die rolprentster heel vredig terwyl hy sy arms vou, spreibeen afsak en moeiteloos balanseer tussen twee vragmotors wat agteruitry. “Wat jy sien, is ’n liggaam wat tot volmaaktheid geslyp is,” sê Van Damme op die klankbaan. “Twee bene wat gevorm is om die wette van fisika uit te daag en ’n ingesteldheid om die mees epiese split te bemeester.”

split trokke

Volvo sê veiligheidstoerusting is wel digitaal uit die advertensie verwyder, maar geen kameratruuks is ingespan nie en die waagtoertjie is eg.

Jean-Claude, wat die bynaam The Muscles from Brussels gekry het, het in die 80’s en 90’s roem verwerf met hoofrolle in gewilde aksieflieks. Hy was weliswaar nie vir sy toneelspel bekend nie, maar kykers met sy gevegskunsvaardighede en soepelheid vermaak, veral met die split.

Hy het in die eerste dekade van dié eeu in ’n paar power flieks gespeel, maar in 2008 ’n terugkeer gemaak met die hoog aangeskrewe rolprent JCVD, waarin hy ’n fiktiewe weergawe van homself speel. Hy was ook een van die skurke in verlede jaar se aksietreffer The Expendables Two.

Sy nuwe rolprent, Enemies Closer, word later vanjaar in Amerika uitgereik.

Kyk hoe Jean-Claude tussen twee vragmotors split:

’n Paar van Jean-Claude se beste rolprent-splits:

  • Timecop (1994)

Time cop

  • Bloodsport (1988)

Bloodsport

  • Cyborg (1989)

Cyborg

  • No retreat, no surrender (1986)

No retreat no surrender

  • Black Eagle (1988)

Black Eagle

-Petro-Anne Vlok

BRONNE: dailymail.co.uk, jalopnik.com, youtube.com, grantland.com