Nicholas van Varenberg van Phoenix, Arizona, is die jongste seun van die akteur wat roem verwerf het met sy Oosterse gevegskuns.
 
Die voorval het Sondagaand plaasgevind. Nicholas het na bewering die hysbak bygedam en sy hand beseer. Met die polisie se aankoms het hulle ’n bloedspoor gevind wat hulle na sy woonstel gelei het.
 
Nicholas was glo woedend omdat sy woonstelmaat die deur vir die polisie oopgemaak het. Hy het ’n mes beetgekry en verhoed dat die woonstelmaat die plek verlaat.


Sy “manhaftigheid” het hom net mooi niks in die sak gebring nie; inteendeel, hy is in boeie geslaan en na die selle geneem. Die polisie het na bewering in die woonstel op verskeie dwelms beslag gelê.


Klagte van aanranding met ’n dodelike wapen, onregmatige gevangehouding en die besit van dwelms en dagga staar die jong man in die gesig.

Hy is op borgtog van sowat R130 000 vrygelaat.

Nog oor Nicholas

Sy ma is die oudmodel Darcy LaPier.

Jean-Claude en Darcy laPier by die Pantages-teater in Hollywood. Die foto is op 3 Junie 1995 geneem. Foto: ron Galella-versameling/Gallo Images/Getty Images

Nicholas is een van JC se vier kinders. Bianca Bree, Sterling Rice en Kristopher van Damme is meer gereeld in die kollig te sien waar hy verkies om 'n lae profiel te handhaaf.

Na verwagting gaan hy wel 'n klein rol in sy pa se fliek Kickboxer: Retaliation vertolk. Die eerste in die ikoniese skop-skiet-en-rondgooi-flieks het 28 jaar gelede "afgeskop".

Bronne: telegraaf.nl, thr.cm, pagesix.com