Cherise Swanepoel het aan die Port Elizabeth-hooggeregshof vertel sy en Jayde het ’n reëling gehad om beurte te maak met rygeleenthede na die skool waar albei skoolgehou het - Riebeek College Girls’ High School op Uitenhage. Cherise was die eerste getuie wat deur die staat geroep is in die saak teen Jayde se man, Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko. Die driestuks word aangekla van sameswering, ontvoering, roof en die eindelike moord op Jayde op 21 April verlede jaar. Panayiotou het onskuldig gepleit.

Cherise het op vrae van die staatsaanklaer, Marius Stander, gereageer. Sy het aangedui sy sou vir Jayde ’n boodskap stuur sodra sy haar eie huis verlaat. Dan sou Jayde vir haar wag voor haar huis in die Stellen Glenn-kompleks in Kabega Park, Port Elizabeth.

Jayde was gewoonlik die enigste mens buite die hek, met uitsondering van huiswerkers op pad werk toe. Sy het gewoonlik ’n sakrekenaarsak en soms skoolboeke by haar gehad.

“Ek het vir Jayde ’n boodskap gestuur om haar te laat weet ek gooi brandstof in. En omdat dit effens gereën het, het ek gevra of ek haar kan kom oplaai. Sy’t gesê nee, sy sal buitentoe kom,” het Cherise onthou van die oggend van Jayde se verdwyning.

Cherise het weer vir Jayde ’n boodskap gestuur toe sy by die kompleks aankom. Dit het egter nooit afgelaai nie en sy’t nooit ’n antwoord van Jayde gekry nie. Sy’t ’n rukkie gewag en toe probeer bel. Jayde se selfoon het reguit na haar stempos gegaan. “Ek het gevra waar Jayde is.” Volgens selfoonrekords het Cherise om 06:34 ’n SMS gestuur en verskeie oproepe gemaak wat nie beantwoord is nie. Sy het ook die landlyn probeer skakel, maar het die oproep gekanselleer omdat sy Panayiotou nie wou wakker maak nie. Sy’t geweet hy werk laat. Sy het bevestig sy het Panayiotou geken, maar ’n emosionele Cherise het gesukkel om sy naam te sê.

Terry Price, vir Panayiotou, het gesê dis onnodig dat Cherise hom identifiseer aangesien sy hom ken. Cherise het gesê Panayiotou het ook geweet waar sy bly omdat hy haar een keer tuis afgelaai het ná ’n personeelgeleentheid. Op ’n vraag van Stander of sy met Panayiotou gepraat het, het sy gesê hy het haar in Oktober 2014 gebel. Dit was voor Jayde se verjaardag en hy wou weet watter soort koek en geskenk sy sou wou hê.

Sy het sy selfoon gebel die oggend van Jayde se verdwyning. Hy het ná ’n rukkie geantwoord.

“Ek het gevra waar Jayde is. Hy het gesê: ‘Wat bedoel jy? Sy’s werk toe.’ ”

Cherise het aan hom gesê sy was daar om Jayde op te tel. Sy kon dus nie reeds werk toe gegaan het nie. Ná ’n minuut of so het hy die deur vir Cherise oopgemaak. Bankrekening-bedrywigheid Toe sy by Panayiotou se deur kom, het hy gesê iets is nie reg nie. Hulle het in sy motor gespring en buite die kompleks begin soek. “Op pad het ons by ’n polisievoertuig verbygery. Ons het gestop en vir hulle gesê ons soek na sy vrou.”

Toe hulle by die kompleks terugkom, het Panayiotou ’n skootrekenaar gebruik om na transaksies op haar bankrekening te kyk. Hy wou sien of iemand haar beroof het. Sy, Panayiotou en Jayde se pa, Derick Inggs, het later na KwaNobuhle gery ná ’n wenk oor ’n onttrekking by ’n OTM. Hulle is ingelig dat daar aktiwiteit op Jayde se rekening was by ’n OTM in Njoli Square naby ’n KFC.

A photo posted by Cathy Heaton (@cathyheatonsa) on

Stander het sy ondervraging afgehandel. Die saak duur voort.

Vroeër vandag: Jayde Panayiotou vir depressie behandel; sy’t ‘gesukkel om alles te hanteer’

Jayde Panayiotou het vir haar gesinsdokter van 20 jaar gesê sy voel nie lekker nie en sukkel om alles te hanteer, het die hooggeregshof in Port Elizabeth Woensdag gehoor. Dr. Bruce du Plessis, ’n algemene praktisyn op Uitenhage en die staat se tweede getuie, het vir die hof gesê hy het vir haar medikasie voorgeskryf.

Die aanklaer, Marius Stander, het hom gevra oor Jayde se geestestoestand voor haar dood op 21 April verlede jaar.

Terry Price, prokureur vir die moordbeskuldigde, Christopher Panayiotou, het hierop beswaar aangeteken omdat Bruce nie ’n psigiater is nie.

Regter Dayalin Chetty het gesê Terry kan hom tydens kruisondervraging oor sy kwalifikasies uitvra.

Simptome van depressie

Bruce het Jayde vir depressie behandel. Die eerste behandeling was op 8 Mei 2014.

Marius wou weet hoe dit gekom het dat Jayde haar geestestoestand met hom bespreek het.

Bruce het gesê Jayde het by hom aangeklop oor ’n oogprobleem en toe genoem sy voel terneergedruk en sukkel om alles te hanteer.

Hy het gesê hy vra sy pasiënte of hulle simptome van depressie ervaar. Hy het ook gesê hy het nie spesifiek uitgevra daaroor nie omdat hulle dikwels nie daaroor wil praat nie.

Hy het daardie dag vir Jayde antidepressante voorgeskryf. Die voorskrif was genoeg vir een maand en hy het haar gevra om terug te keer sodat hy die uitwerking kon evalueer.

Sy het op 5 Junie 2014 teruggekeer en gesê sy voel baie beter. Hulle het die medikasie vir nog vyf maande voorgeskryf met die bedoeling om dit teen Desember te verminder. Jayde het hom egter eers weer op 16 April verlede jaar gesien en Bruce sê sy het toe spesifiek vir dieselfde antidepressante gevra. Terry het nie die dokter kruisondervra nie en hy is verskoon. Jayde se man, Christopher, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, ontvoering, roof en die moord op die 29-jarige onderwyser op 21 April verlede jaar. Hulle het onskuldig gepleit.

Sizwezakhe Vumazonke, glo die man wat die staatsgetuie, Luthando Siyoni, gehuur het om die moord te pleeg, is in September in ’n hospitaal in Port Elizabeth dood. Luthando het as ’n uitsmyter by Christopher se Infinity Cocktail Bar in Algoa Park gewerk.

Bron:News24