“Sy was eensaam in haar huwelik,” het Jayde Panayiotou se suster, Toni Inggs, Woensdag in die hof getuig.

Toni was glo bewus van die ongelukkigheid in Jayde en haar man, Christopher, se huwelik en het met haar daaroor gepraat. Jayde het na bewering haar suster vertel van haar ongelooflike eensaamheid omdat sy en Panayiotou afsonderlike lewens gelei het. Sy sou soggens gereed maak om werk toe te gaan en hy sou nog slaap. Hy’t glo ook gewoonlik eers huis toe gekom nadat sy reeds gaan slaap het. “Dis jammer, ek het Chris (Panayiotou) die meeste van die tyd verdedig. Ek het haar bly verseker hy werk hard en laat ter wille van hulle twee.”

Die staatsaanklaer, Marius Stander, het Toni gevra of sy bewus was van Panayiotou se verhouding met Chanelle Coutts, sy winkelbestuurder by die OK Grocer in Algoa Park.

“Nee, glad nie. Ek het wel ’n paar goed bevraagteken,” het sy gesê. Een daarvan was hoekom Jayde verbied was om aan Panayiotou se selfoon te raak.

Panayiotou het nie na Toni gekyk nie.

“Ek weet nie hoeveel meer ek kan verduur nie.”

Stander het stukke uit Jayde se dagboek voorgelees. Dié was glo in haar spieëlkas gevind. “Elke keer as ek my ribbekas oopskeur om die vlinders vry te laat, is mense te besig om hulle weg te waai. Ek het ’n held nodig gehad, toe word ek een. Al wat ek ooit wou hê is om geheel en volledig liefgehê te wees,” het hy voorgelees. “Ek weet nie of ek hierdie lewe kan leef nie. Ek weet nie hoeveel meer ek kan verduur nie. Hoekom steek hy so baie van my weg en hoekom is dit onmoontlik om met hom te kommunikeer? Ek skryf hierdie woorde want ek het nie meer plek binne nie. Ek kan dalk net ontplof.” Toe Toni uitgevra is oor hoe haar verhouding met haar swaer was, het sy in trane uitgebars. Die hof moes verdaag tot sy beter gevoel het.

“Ek wil hom vir ewig laat wegsluit.”

Onder kruisverhoor het Panayiotou se advokaat, Terry Price, haar stellings met die prentjie van ’n liefdevolle huwelik gekontrasteer.

Hy het beweer Jayde het nie die gedig geskryf nie, maar dit van die internet bekom. Price het ook ontken dat Jayde nie toegang tot Panayiotou se selfoon gehad het nie of dat hy dit by haar gegryp het. Toni het gesê Jayde sou die meeste naweke saam met haar familie op hul plaas deurbring omdat haar man naweke gewerk het. Price het gesê die paartjie het saam ’n huis in Lovemore Park, Port Elizabeth, gekoop.

Hy het ook genoem Toni het tot April verlede jaar aan die hof vertel sy het Panayiotou soos ’n eie broer liefgehad.

Hy het gevra of Toni ’n Facebook-blad genaamd Justice for Jayde gestig het. Op daardie blad word na Panayiotou en sy familie as “bastards” verwys.

Toni het erken dit was sy. “Ek wil hom vir ewig laat wegsluit. Ek soek geregtigheid vir my suster. Ek is woedend.”

Sy het ook gesê Panayiotou se ouers het hulle sedert sy inhegtenisname as die vyand behandel nadat hulle 11 jaar lank deel van mekaar se lewe was. Price verwys ook na “liefdevolle” foto’s van die paartjie op Instagram en sê Toni verkies om die negatiewe kant van hul verhouding te wys. Nadat Stander bevestiging van Toni verkry het dat die foto’s wat nou ter sprake is, van Jayde se Instagram-rekening en nie dié van haar man s’n is nie, het hy die “likes” van die foto’s bespreek.

“Is dit korrek dat Christopher Panayiotou nie (amptelik) enige van die foto’s ge-“like” het nie?" Toni het dit bevestig.

Bron: News24