Hoe voel julle ná gisteraand se uitskakeling?

  • Jay: Dit was maar ’n bitter pil om te sluk, want ek sou baie graag verder in die reeks wou vorder. Ek voel dis nog nie my tyd om huis toe te gaan nie. Dit was wel ’n ongelooflike avontuur, en ek het goeie vriende gemaak.
  • Ronel: Ek is teleurgesteld vir albei van ons, maar meer vir Jay. Dit was die einde van die pad vir my; ek het dit al voor die uitdaging aangevoel.

Wat presies het met jul kos skeefgeloop?

  • Jay: Ons moes kanse waag om bo uit te kom. Die visie wat ons vir ons kos gehad het, is nie op die bord weerspieël nie.
  • Ronel: Ek dink die storie wat ons met ons kos (en veral met die slaai!) wou vertel, het in die kookproses heeltemal verdwyn, want ons was nie op dieselfde golflengte nie. Ons vleis was effe droog en ons het dit gesny; die opdrag was om dit nie te doen nie. Die aartappelslaai was vervelig en ’n vormslaai behoort geëet en nie gedrink te word nie. Eintlik het nie veel uitgewerk nie.

Hoe sou julle jul spanwerk beskryf?

  • Jay: Ek dink ons het goed saamgewerk. Sy werk lekker vinnig! Maar daar is altyd ’n bietjie druk op ’n span wat vir die eerste keer saam kook.
  • Ronel: Ek wens regtig ek kon langer saam met hom kook. Ons was soos twee plaasimplemente met baie aanvullende komponente wat nooit besef het hoe goed hulle mekaar kon help nie, want hulle staan op twee verskillende landerye.

Dink julle julle sou verder kon kom met ander spanlede?

  • Jay: Dit is moeilik om te sê, want ’n mens weet nooit wat kan gebeur nie. Maak nie saak hoe ’n mens na die ding kyk nie, daar is steeds twee in ’n span. Ek en Ronel het saam besluit wat op die spyskaart kom, saam daaraan gewerk en saam die gevolge gedra. Wen of verloor, ek het al my spanmaats geniet en wens dié wat nog sake gaan uitspook baie sterkte toe.
  • Ronel: Chris het vir my gesê hy wil nog saam met my werk. Saam met hom sal dinge moontlik beter werk. Ek het groot waardering vir hom as mens en bewonder sy vernuf. Daar was ook wedersydse respek tussen ons.

Julle het weens uiteenlopende redes nogal baie aandag op sosiale media gekry: Jay, jy het baie komplimente van die skoner geslag gekry; Ronel, kritiek oor jou hare en jou onophoudelike geklets. Wat sê julle daaroor?

  • Jay: Aandag? Wat is dit? Kan jy dit op brood smeer? Ek boer op ’n plaas buite Jansenville en kom selde in die stad. Dit was wel lekker om op ’n Donderdag by die koöperasie in te stap en mense te ontmoet wat vra of ek nie in Prins Albert moet wees nie.
  • Ronel: Ha-ha! Daar was baie erger opmerkings as my gebrek aan haarstilering. Ek het in die tweede episode seker maar my eie doppie geklink toe ek so baie praat; dit is ’n natuurlike reaksie op spanning. Ek het myself daarna probeer inhou, maar dis moeilik om menings oor jou te verander. Ek weet baie mense ervaar my as eksentriek en vreemd, maar ek was verstom hoe wildvreemdelinge my persoonlikheid so afkraak en my skaamteloos beledig. Aanvanklik het dit my baie seergemaak, maar ek veroordeel glad nie, want ek het nie hul goedkeuring nodig nie. As hulle nie kon sien dat my hare altyd in die kombuis vasgebind was nie, stel ek voor hulle kyk na ’n heruitsending.

Jay, almal wil weet of jy ’n meisie het...

  • Ek het ’n wonderlike vrou, Helette. Ons was hoërskoolliefies en het mekaar weer raakgeloop toe ek op Franschhoek sjefskool toe is. Ons is nou al ’n bietjie meer as ’n jaar getroud en is die gelukkige ouers van drie pragtige hondekinders – twee Labradors en ’n Ierse wolfhond.
Wat is jul toekomsplanne?
  • Jay: Ek het pas ’n reeks produkte ontwikkel met die naam Karoo Karma. Dit sluit koedoe-carpaccio, -schnitzel en -chorizo in. Ek wil die produkte nou landwyd bemark. Ek het ook nog my oog op ’n kookboek.
  • Ronel: Ek was nog altyd baie behep met veldkos, en eksperimenteer al jare daarmee. Ek het hordes resepte ontwikkel, ken die voedingswaardes daarvan en wetenskaplike benamings daarvoor, weet hoe om dit volhoubaar te groei en te oes, en het besef daar is baie mense wat meer daaroor wil leer; daarom is ’n veldgids-resepteboek op die horison.

Hoe kan aanhangers kontak met julle behou?

  • Jay: Volg my gerus op Facebook by Jay Oelofse Kokkedoor 2014, of op Twitter by @JayOelofse.
  • Ronel: Sommer by Ronel Theron Kokkedoor 2 op Facebook.

– Christiaan Boonzaier