Jason, wat ’n hoofrol in Fast and the Furious 7 vertolk het, het onlangs laat val dat hy deel van die agtste fliek gaan wees. Teen die einde van Furious 7 was sy karakter, Deckard Shaw, agter tralies, maar nog lewend.

“Ons praat reeds daarvan om nog een te doen, deel agt,” het Jason aan Access Hollywood gesê.

“Ek’s ’n nuweling – ek is pas met die laaste een na die partytjie toe genoooi, en dis lekker om te weet ek gaan nog een doen.”

Dit was reeds bekend dat daar ’n agtste fliek gaan wees nadat een van die groot sterre van die gewilde fliekreeks, Vin Diesel, laat val het dat ’n nuwe fliek gemaak gaan word. Die nuwe fliek gaan in New York afspeel.

Daar is groot name wat met die nuwe een verbind word, waaronder Kurt Russell, wat ’n geheime agent in Fast 7 gespeel het, Dwayne “The Rock” Johnson, Eva Mendes en Lucas Black.

Daar is bespiegel dat daar nog tot drie flieks in die pyplyn is ná Fast 7, insluitend die agtste weergawe, en gegewe die sukses van die reeks, sou dit laf wees om nie daarmee voort te gaan nie. Fast and the Furious 7 het in die eerste drie weke van uitreiking meer as R12 biljoen laat inrol.

Fast and the Furious 8 sal na verwagting in April 2017 uitgereik word.