Jason Rohde se oudste dogter is die afgelope naweek in ’n Plettenbergbaaise hospitaal opgeneem, maar glo omdat sy gedehidreer het en nie omdat sy dwelms gebruik het soos vroeër berig nie.

Jason, die grootbaas van Sotheby’s International Realty SA, se opdraggewende prokureur Tony Mostert het aan Eyewitness News gesê dat Kate Rohde gehospitaliseer is ná sy "waarskynlik te veel alkohol gedrink het".

Dit is in teenstelling met Netwerk24 wat vroeër berig het dat 'n betroubare bron gerapporteer het dat Kate hospitaal toe is nadat sy ’n dwelmoordosis gebruik het.

Kate (18), wat vanjaar matriek voltooi het, het saam met duisende ander matrieks in Plettenbergbaai vakansie gehou. Dis onduidelik of sy steeds in die hospitaal is of wat haar toestand tans is.

Jason word aangekla van die moord op sy vrou, Susan. Sy is in Julie dood aangetref agter die badkamerdeur van die egpaar se hotelkamer by die Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch. Hulle het ’n konferensie van Sotheby’s bygewoon.

Jason moet weer in Januarie in die Stellenbosse landdroshof verskyn.

As deel van Jason se borgtogvoorwaardes moet hy drie keer ’n week by sy naaste polisiekantoor in Johannesburg aanmeld. As hy Gauteng wil verlaat, moet hy ook toestemming kry by die direkteur van openbare vervolging.

“Wanneer hy nie by die huis is nie moet hy drie keer ’n week by die naaste polisiekantoor aan sy alternatiewe adres aanmeld,” sê Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale vervolgingsgesag (NVG).

Eric het gesê die NVG kan nie sê of Jason intussen na Plettenbergbaai gereis het nie.

Een van Jason se ander prokureurs, Daniel Witz, het aan Huisgenoot gesê enigiets met Jason en sy dogters te doen is ’n “privaat familiesaak”.