Intussen is bevestig dat die drie, Gregory Naidoo (57), sy vrou, Melanie Naidoo (51) en hul dogter, Rakiel Naidoo (23) van Northcliff die slagoffers was. Hulle is Saterdag na ’n rooftog by hul huis in Northcliff, Johannesburg, ontvoer.

Volgens die Northcliff Melville Times het die polisie bevestig daar is tekens van ’n struweling in die huis. ’n Ooggetuie het melding gemaak van bloed wat op die toneel gesien is. ’n Gewapende roof is omstreeks halfnege aangemeld.

Die liggame was grusaam verbrand en naasbestaandes kon hulle slegs identifiseer van oorblyfsels van hul klere en liggaamsdele.

Die man se suster is ’n tandarts en sy het Maandag na die lykshuis gegaan. Sy het hulle positief volgens hul tandheelkundige rekords geïdentifiseer.

Kapt. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, het gesê een van die ses wat sedertien in hegtenis geneem is, is waarskynlik ’n gewese werknemer.

“Hy het vir meer as 12 jaar vir die gesin gewerk,” het hy gesê.

Die gesin se voertuig, ’n Mercedes Benz, asook gesteelde goedere is deur die polisie gevind.

Die ses gaan aangekla word van ontvoering, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en die besit van ’n gesteelde voertuig en goedere.

Hulle sal Vrydag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

Enigiemand met inligting word versoek om kapt. Kloppers van Sophiatown se polisiekantoor by 082-529-5253, 072-214-7439 of 083-389-4882 te kontak.

Bykomende bron: news24.com