DIT voel soos nou die dag dat wêreldrugby hom vereer het vir die drie van die jaar, en hier doen Jaque Fourie dit toe sowaar weer in 2010: Die Bokheld word by verlede maand se SA Rugby-toekennings vir die beste drie vanjaar bekroon.

Met sy skitterdrie teen die Britse en Ierse Leeus nog vars in die geheue, word Jaque toe dié keer vereer vir ’n sensasionele solopoging vir sy nuwe Super14-span, die Stormers.

Rugbyliefhebbers het gereken hulle sou bitter lank moes wag vir iets meer skouspelagtigs as sy drie teen die Leeus verlede jaar, waarvoor hy in Maart deur die Internasionale Rubyraad bekroon is. Hy’s met vaartversnelling, vernuf en brute krag boor en deur twee Iere en ’n Wallieser, wat almal steeds wonder hoe de vet Fourie die kantlyn vermy het . . .

En tog, vir sy topdrie deur ’n plaaslike speler vanjaar het hy vyf Crusaders in ’n verstommende 60 m-lopie geklop.

Die Carletonville-boorling wat Kaapse rugby ’n hengse hupstoot gegee het, het weer gewys waarom hy as een van die vernietigendste aanvallers ter wêreld beskou word.

En waar jy hom ’n ruk gelede met krukke en ’n voetstut by die Beyerskloof-restaurant buite Stellenbosch sien sit het, kon jy net raai hoe graag die groot Boksenter die toer na Europa sou wou meemaak vir nog ’n drie of wat teen Britse spelers.

Maar nou ja, “alles gebeur met ’n doel”, sê Jaque (27), en kyk na die mooie Kelly (23), wat reeds net so gek na Kaapstad is soos haar man. Die blondekop met wie hy in Mei verlede jaar getroud is, sal hom nou weer op

die herstelpad bystaan, soos in sy slegste beseringsjaar net nadat hy die Wêreldbeker-trofee saam met sy Bok-maats in Frankryk omhoog gehou het.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 23 Desember 2010