Die aardbewing het Saterdag die elektrisiteit oral in Tokio uitgesny en tientalle inwoners is in hysbakke vasgekeer.

Party is meer as ’n uur vasgekeer en nou oorweeg die owerheid dit om te kyk na maniere om verligting te bring aan dié wat vasgekeer word.

Die ministerie van infrastruktuur asook organisasies in die hysbakbedryf het Woensdag beraadslaag oor die installering van toilette wat mense in ’n noodgeval kan gebruik.

Hulle het ook voorgestel dat ’n noodvoorraad drinkwater in hysbakke aangebring word.

Idees vir die noodtoilette sluit in ’n opvoubare struktuur van karton met ’n waterdigte sak of absorberende stof binne-in.

Party nuwer hysbakke het klein sitplekkies vir Japan se toenemende getal bejaardes en ’n moontlikheid is om toilette onder dié sitplekke aan te bring.

Bronne: BBC News, The Guardian