Hul hoofbekommernis is net Jannie se spoedige herstel, sê sy meisie, Melissa-Jo Sharpe, in ’n persverklaring wat uitgereik is na aanleiding van etlike gerugte wat die ronde doen oor wat tot die tenoor se beserings gelei het.

Jannie is op 5 April met ’n reeks beserings in die Mango-restaurant in Hartebeespoort se tuin gevind. Hy het ’n vriend se ramparty daar bygewoon en dit blyk dat hy van die restaurant se dak afgeval het.

Melissa-Jo sê Jannie se familie “sien uit na die oomblik wanneer hy uit sy geïnduseerde koma gaan kom” en dat Jannie se beserings op dié stadium “beperk is tot beenfrakture in sy gesig, frakture aan sy linkerhand en ’n sny op sy regteroogbank”.

Barnard Beukman, Jannie se reklamebestuurder, sê in die verklaring die rits aantygings oor wat tot Jannie se val gelei het, is onmoontlik omdat Jannie gelyktydig in meer as een plek sou moes wees vir die aantygings om almal waar te wees.

Daar is aanvanklik berig dat Jannie van die dak by die restaurant afgeval het, maar is later ook berig dat hy moontlik gestamp is en dat dit die werk van ’n bende kan wees.

“Ekself glo hy is aangerand,” sê Melissa-Jo in die verklaring.

Jannie het reeds drie suksesvolle operasies ondergaan en Melissa-Jo sê sy familie vermoed dat hy binne die volgende twee of drie dae wakker sal word.

- Mieke Vlok